Suid-Afrikaners kan in die komende maande moontlik verligting by die brandstofpomp kry namate oliepryse daal. Kenners waarsku egter dat ’n ontwikkelende super-El Niño-weerverskynsel volgende jaar ’n veel groter bedreiging vir die ekonomie kan inhou.
Volgens ekonome kan die verskynsel voedselpryse aansienlik opstoot en inflasie selfs tot dubbelsyfers laat styg.
Investec se hoofekonoom, Annabel Bishop, sê hoewel laer oliepryse tans gunstig vir verbruikers is, bly daar groot risiko’s vir die inflasievooruitsigte in 2027.
“Opwaartse risiko’s vir die inflasievooruitsig in 2027 bly bestaan, veral die ontwikkeling van ’n super-El Niño-weerverskynsel wat verbruikersprysinflasie tot dubbelsyfers kan opstoot,” sê sy.
Die finansiëledienstegroep MCB waarsku dat El Niño die ekonomiese druk verder kan vererger deur reënvalpatrone te ontwrig, temperature te verhoog en landbouproduksie te benadeel.
El Niño is ’n natuurlike klimaatverskynsel wat ontstaan wanneer seetemperature in die sentrale en oostelike Stille Oseaan warmer as normaal raak. Dit beïnvloed weerpatrone wêreldwyd en bring dikwels warmer en droër toestande na Suider-Afrika.
Droogtes wat deur El Niño veroorsaak word, kan oesopbrengste verminder en voedselpryse laat styg.
Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het reeds gewaarsku dat die verskynsel ’n negatiewe uitwerking op inflasie kan hê.
Landbou-ekonoom Wandile Sihlobo sê die grootste risiko lê by die volgende somerplantseisoen.
“Die verwagte El Niño-weerverskynsel sal die 2026-’27-somergraanseisoen beïnvloed wat vanaf Oktober 2026 geplant word. Die uitwerking op voedselinflasie sal waarskynlik in 2027 meer sigbaar wees,” sê hy.
Hy meen graanpryse kan reeds teen die einde van 2026 begin styg indien daar tekens van ’n komende droogte is.
Sihlobo wys ook daarop dat hoë kunsmispryse en brandstofkoste steeds druk op boere plaas. Omdat sowat 90% van Suid-Afrika se landbouprodukte per pad vervoer word, beïnvloed brandstofpryse ook die koste van voedsel.
Vir nou lyk die prentjie egter positief.
Suid-Afrika is tans op koers om sy grootste somergraan- en oliesaadoes nóg aan te teken. Die jongste ramings dui op ’n oes van ongeveer 21 miljoen ton, sowat 3% meer as die vorige seisoen.
“Vir nou beskik Suid-Afrika oor voldoende voedsel- en landbouvoorrade,” sê Sihlobo.
Intussen kan die afnemende spanning in die Midde-Ooste verdere verligting vir motoriste bring.
Volgens Bishop het verskeie faktore gehelp om oliepryse te beperk, ondanks die konflik in die streek. Dit sluit onder meer swakker Chinese vraag, verhoogde olieproduksie, groter OPEC+-kwotas en die gebruik van alternatiewe energiebronne in.
Markte hoop dat ’n moontlike vredesooreenkoms tussen die Verenigde State en Iran tot verdere dalings in oliepryse sal lei, wat uiteindelik goedkoper petrol en diesel in Suid-Afrika kan beteken.
Hoewel sakevertroue vroeër vanjaar onder druk gekom het weens hoër brandstofkoste, het Suid-Afrika se finansiële markte reeds ’n groot deel van hul verliese herstel.
Kenners waarsku egter dat die moontlike impak van ’n super-El Niño steeds ’n ernstige risiko vir voedselpryse, inflasie en die breër ekonomie in die komende jaar inhou.