Woolworths beoog om vroeg in 2027 sy eie kunsmatige-intelligensie (KI)-assistent vir maaltydbeplanning bekend te stel. Die hulpmiddel, My Woolies Chef, sal kliënte help om resepte te kies en inkopielyste saam te stel.
Volgens Woolworths sal My Woolies Chef toegang bied tot sowat 8 000 resepte wat oor twee dekades vir die kleinhandelaar se Taste-tydskrif saamgestel is.
Die KI-assistent sal telkens drie resepvoorstelle op ‘n slag aanbied. Indien gebruikers nie van die voorstelle hou nie, kan hulle vrae aan die KI-assistent stel en verdere aanbevelings aanvra totdat hulle ‘n geskikte resep vind.
Die bekendstelling volg nadat mededingers Shoprite en Pick n Pay reeds hul eie KI-assistente, onderskeidelik Pixie en Penny, bekend gestel het.
Woolworths se hoof van produkontwikkeling, Marisa Munroe, sê die maatskappy se doel is nie noodwendig om eerste met nuwe tegnologie op die mark te wees nie, maar om ‘n beter produk aan kliënte te bied.
My Woolies Chef sal ná verdere toetsing op die nuwe My Difference-platform van Woolworths bekend gestel word. ‘n Geselekteerde groep lede van die lojaliteitsprogram sal die hulpmiddel vanaf September tydens ‘n betatoetsfase kan gebruik.
Volgens Munroe onderskei My Woolies Chef hom van soortgelyke KI-hulpmiddels deurdat dit op Woolworths se eie resepte en Suid-Afrikaanse produkte fokus. Sy sê algemene resepte wat aanlyn beskikbaar is, bevat dikwels bestanddele wat moeilik plaaslik verkrygbaar is.
Gebruikers sal ook die bestanddele vir ‘n gekose resep direk via Woolworths se afleweringsplatform Dash kan bestel of ‘n inkopielys vir aankope in ‘n winkel laat saamstel.
Woolworths Food se uitvoerende hoof, Chan Pillay, sê die doel van die nuwe hulpmiddel is om alledaagse besluite oor maaltye te vergemaklik en kliënte met groter selfvertroue te help beplan, inkopies doen en kos maak.
Die KI-assistent sal volgens Woolworths ook sy bekende rotisseriehoender, asook ander staatmakerprodukte, gebruik om nuwe resepidees voor te stel en kliënte te inspireer om bekende bestanddele op verskillende maniere te gebruik.
Munroe sê baie Suid-Afrikaners sukkel om te besluit wat om vir aandete voor te berei en val dikwels terug op geregte wat hulle reeds ken. Volgens haar is My Woolies Chef ontwerp om die kopkrap oor wat om vir ete voor te berei te verminder deur nuwe idees en inspirasie vir maaltye te bied.