Pick n Pay sê sy herstelplan bly op koers, maar die uitvoerende hoof, Sean Summers, waarsku dat die proses langer kan neem as wat aanvanklik verwag is.
Volgens Business Report het Suid-Afrika se tweede grootste kruideniersketting sy herstelplan laat in 2023 begin. Die doel was om die onderneming weer winsgewend te maak, bedrywighede te vereenvoudig en die supermarkafdeling sterker te maak.
Summers het Maandag gesê bestuur het oorspronklik gehoop die herstelproses sou sowat drie jaar duur, maar dit kan nou langer neem, al word daar steeds vordering gemaak.
Pick n Pay het sy bedryfsverlies met 5,4% verminder tot R386 miljoen vir die 52 weke wat op 1 Maart geëindig het.
“Hoewel Pick n Pay se handelsverlies toegeneem het, is die onderneming vandag baie sterker as twee en ‘n half jaar gelede weens die stappe wat ons geneem het en die beleggings wat gemaak is,” het Summers gesê.
Hy sê die groep het nou genoeg finansiële stabiliteit om weer winsgewend te word, maar dit sal afhang van hoe suksesvol al ses van die groep se strategiese planne uitgevoer word. Dit sluit ook die vermindering van arbeidskoste in.
Vroeër hierdie maand het Pick n Pay ‘n Artikel 189A-konsultasieproses aangekondig wat winkelwerknemers raak. Dit volg op groot herstrukturering van die groep se administratiewe bedrywighede oor die afgelope twee jaar, wat salarisbevriesings en werksverliese ingesluit het.
Summers het gesê Pick n Pay-werknemers ontvang tans dubbel betaling vir Sondagswerk, terwyl die bedryfstandaard gewoonlik net 50% ekstra betaling is. Hy sê gesprekke met vakbonde is reeds twee en ‘n half jaar aan die gang.
Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie fasiliteer tans die konsultasieproses.
Ondanks die uitdagings sê Summers daar was verbeterings in Pick n Pay se supermarkbedrywighede, terwyl die afslagwinkel Boxer steeds sterk groei toon.
Drie van Pick n Pay se ses hersteldoelwitte is glo reeds grootliks afgehandel. Dit sluit die versterking van die onderneming se finansies, die herbou van bestuursstrukture en die herorganisering van winkels in.
Die groep het verlede week R4,7 miljard ingesamel deur ‘n belang van 11,5% in Boxer te verkoop. Pick n Pay besit steeds 54% van die afslagketting.
Die groep se totale omset het met 3,4% gestyg oor die verslagtydperk. Boxer se omset het met 12,3% gegroei, terwyl Pick n Pay se eie omset met 1,6% gedaal het weens winkelsluitings en omskakelings.
Volgens Summers is sowat 90 winkels uit die groep se omsetsyfers verwyder nadat hulle na Boxer-winkels omskep, aan franchisenemers verkoop of heeltemal gesluit is.
Pick n Pay-supermarkte het verkopegroei van 3,9% aangeteken, terwyl die groep se aanlyn besigheid se omset met 32,7% gegroei het.
Die groep se handelswins het egter met 4,2% gedaal tot R1,7 miljard. Boxer se handelswins het met R330 miljoen gestyg, terwyl Pick n Pay se handelsverlies met R404 miljoen toegeneem het tot R1 miljard.
Summers sê daar is verbeterings in winkelstandaarde, produkbeskikbaarheid, varsprodukte, logistiek en voorsieningskettings.
Casparus Treurnicht van Gryphon Asset Management meen hy het teen hierdie tyd sterker verbetering in Pick n Pay se winsmarges en groter sigbare vooruitgang in winkels verwag.
Hy sê Shoprite wen steeds markaandeel ten koste van Pick n Pay en SPAR.