BERLYN – ‘n Vrou is dood en minstens 29 mense beseer nadat ‘n paneelwa Saterdagaand by die Christopher Street Day Pride-geleentheid in Berlyn in ‘n skare ingejaag het. Duitse owerhede sê dit blyk waarskynlik ‘n Islamitiese terreuraanval te wees.
Die aanval het omstreeks 22:00 plaaslike tyd in Tiergartenpark, naby die Brandenburghek, plaasgevind waar honderde duisende mense vir die jaarlikse geleentheid byeengekom het. Verskeie mense is ook met ‘n steekwapen wat volgens owerhede moontlik ‘n kapmes was, aangeval. Die Pride-geleentheid is kort daarna gekanselleer en die skare is ontruim.
Polisie het later die paneelwa, wat volgens owerhede gehuur is, opgespoor nadat dit teen ‘n boom gebots het.
Die vermeende aanvaller is as Abdul Ballout (21), ‘n Duitse burger van Libanese afkoms, geïdentifiseer. Hy het ná die aanval gevlug, maar is Sondag in die westelike Berlynse stadsdeel Spandau deur die polisie opgespoor. Volgens owerhede het hy met ‘n mes op polisielede afgestorm, waarna hy doodgeskiet is.
Die Duitse kanselier, Friedrich Merz, het die aanval as “afskuwelik” veroordeel en gesê dit was ‘n aanval op Duitsland se oop en vrye samelewing. Europese leiers, onder wie die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, het ook hul meegevoel met die slagoffers uitgespreek.
Volgens Duitse owerhede was Ballout reeds aan die polisie bekend en het hy geradikaliseer. Hy het in Mei 2025 via Turkye na Libanon gereis in ‘n poging om by die Islamitiese Staat (IS) in Sirië aan te sluit. Hy is in Julie 2025 in Libanon in hegtenis geneem en tot drie maande tronkstraf gevonnis weens die aanhitsing van godsdienstige en sektariese konflik. Ná sy terugkeer na Duitsland in November 2025 is hy op Berlyn Brandenburg-lughawe in hegtenis geneem en in aanhouding geplaas.
In Mei vanjaar is hy tot een jaar en tien maande gevangenisstraf gevonnis vir die voorbereiding van ‘n ernstige daad van geweld wat die staat in gevaar sou stel. Die uitvoering van die vonnis is egter vir ses maande uitgestel en hy is onder toesig van ‘n proefbeampte geplaas.
Ballout is ook voorheen in 2020 aan roof en in 2022 aan aanranding en roof skuldig bevind.
Boer24.com bring jou die nuus in Afrikaans!