WYOMING – Yellowstone Nasionale Park in die Amerikaanse deelstaat Wyoming het besluit om geen optrede teen ‘n bison te doen wat verlede week ‘n man ernstig beseer het nie. Die bison sal nie uit die park verwyder of uitgesit word nie.
Parkowerhede het bevestig dat geen maatreëls teen die bulbison geneem sal word ná die aanval, waartydens Carl Isom-McDaniel verskeie bene gebreek het en ‘n operasie moes ondergaan.
Die voorval is op video vasgevang deur die natuurfotograaf Mike MacLeod. Die beeldmateriaal, wat wyd op sosiale media versprei is, wys hoe die bison Isom-McDaniel die lug in slinger voordat die dier oor hom bly staan.
MacLeod sê hy het opgehou verfilm toe hy sien die man word die lug ingeslinger. Hy en ander omstanders het daarna probeer om die bison weg te dryf en noodhulp te verleen.
Volgens MacLeod het nóg Isom-McDaniel nóg sy kleinseun die dier uitgelok.
MacLeod sê die bison het kort tevore reeds ‘n groep tieners bestorm voordat Isom-McDaniel en sy kleinseun, wat deur die kampterrein gestap het, op die dier afgekom het. Hoewel hulle probeer wegbeweeg het toe die bison onrustig geraak het, het die dier sy aandag op hulle gevestig en aangeval.
Isom-McDaniel herstel tans nadat hy geopereer is. Volgens MacLeod was die beseerde oupa se eerste vraag ná die aanval of sy kleinseun ongedeerd was. Die tiener het die aanval sonder beserings vrygespring.
Yellowstone herinner besoekers dat hulle minstens 23 meter van bison moet wegbly. Die diere kan tot sowat 900 kg weeg en snelhede van ongeveer 48 km/h bereik. Bulbisonne kan veral gedurende die jaarlikse paarseisoen aggressief optree.