Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê ’n ooreenkoms is bereik waarvolgens Hamas sal ontwapen en Israel sy magte uit Gaza sal onttrek. Openbare verklarings deur Hamas, Israel en Amerikaanse amptenare dui egter daarop dat die partye steeds oor belangrike aspekte van die uitvoering verskil.
“Hierdie ooreenkoms is ’n belangrike stap om Gaza uiteindelik onder ’n nuwe Palestynse regering te plaas wat nou met die Board of Peace (“Raad vir Vrede”) sal saamwerk om die Palestynse volk te help,” het Trump op sosiale media gesê.
Hy het bygevoeg dat die ooreenkoms ook Israel die veiligheid sal bied wat dit verdien, met Gaza wat nie langer as basis vir terreuraanvalle gebruik sal word nie.
Die voorgestelde plan bou voort op ’n skietstilstand wat verlede jaar met Amerikaanse bemiddeling bereik is. Onderhandelinge oor die tweede fase het egter sedertdien vasgeloop, veral oor Hamas se ontwapening en die herbou van Gaza.
Trump se 20-punt-plan bepaal dat Hamas sy wapens moet oorgee en sy uitgebreide tonnelnetwerk moet vernietig. Dit maak ook voorsiening vir die onttrekking van Israeliese magte uit Gaza, die aanstelling van ’n nuwe tegnokratiese Palestynse regering, die ontplooiing van ’n internasionale veiligheidsmag en die heropbou van die gebied ná meer as twee jaar van oorlog.
Volgens berigte het senior Hamas-amptenare ingestem tot die plan, maar daar is reeds ’n meningsverskil oor die volgorde waarin dit uitgevoer moet word.
Ghazi Hamad, ’n lid van Hamas se onderhandelingspan, het aan Al Jazeera gesê Hamas sal nie oor ontwapening optree voordat Israel sy magte uit die Gazastrook onttrek het nie.
Hy het ook aan Agence France-Presse (AFP) gesê die ooreenkoms vereis dat Israel eers sy verpligtinge moet nakom. Indien dit nie gebeur nie, sal Hamas volgens hom ook nie sy deel uitvoer nie.
’n Israeliese amptenaar het gesê Israel eis die volledige ontwapening van Hamas, insluitend die verwydering van alle wapens uit Gaza en die volledige demilitarisering van die gebied, voordat enige verdere proses kan voortgaan. Volgens die amptenaar spreek die huidige plan nie voldoende hierdie eise aan nie.
’n Amerikaanse amptenaar het intussen gesê Israel is baie skepties dat Hamas werklik sy wapens sal neerlê. Volgens die amptenaar sal Trump baie teleurgesteld wees indien Israel nie die ooreenkoms nakom nie.
Hamas se stigtingshandves steun gewapende verset teen Israel, en die organisasie was nog altyd onwillig om afstand te doen van sy vuurpyle, teen-tenkmissiele, plofstof en ander wapens.
Die groep het vroeër vandeesmaand aangekondig dat hy sy regering in Gaza ontbind het en voorberei om die bestuur aan ’n tegniese komitee oor te dra wat deur die Verenigde Nasies gesteun word as deel van die skietstilstandooreenkoms.
Amerikaanse en Raad vir Vrede-amptenare kon nie ’n vaste tydlyn vir Hamas se ontwapening gee nie, maar het aangedui dat die proses tussen 200 en 350 dae kan duur.
Hamas se leiers sal na verwagting in die komende dae met bemiddelaars uit Egipte, Katar en Turkye vergader om die tweede fase van die plan te bespreek.
Hoewel die aangekondigde ooreenkoms as ’n moontlike deurbraak beskou word, bly die situasie op die grond gespanne. Plaaslike medici het Donderdag gesê minstens ses Palestyne, onder wie twee kinders, is in Israeliese lugaanvalle dood.
Die Israeliese eerste minister, Benjamin Netanyahu, het intussen gesê Israel beoog om die gebied onder sy beheer tot 70% van Gaza uit te brei. Dit is ook nog onduidelik hoeveel troepe vir die beplande Internasionale Stabiliseringsmag beskikbaar sal wees en of Israeliese magte wel volledig uit Gaza sal onttrek.