WhatsApp stel ‘n nuwe funksie bekend waarmee gebruikers ‘n gebruikersnaam kan skep en gebruik sonder om hul selfoonnommer met ander te deel.
Gebruikers kan reeds van dié week af hul voorkeurgebruikersname bespreek, hoewel die funksie geleidelik oor die volgende paar maande wêreldwyd beskikbaar gestel sal word.
Volgens WhatsApp is die doel om gebruikers meer privaatheid te bied, veral wanneer hulle vir die eerste keer met nuwe mense gesels of by groepe aansluit. Met ‘n gebruikersnaam hoef ‘n persoon nie meer sy of haar selfoonnommer bekend te maak om kontak te maak nie.
Die maatskappy sê gebruikersname behoort uniek te wees en slegs met mense gedeel te word met wie gebruikers kontak wil hê. ‘n Gebruikersnaamgenerator sal ook beskikbaar wees om voorstelle te maak indien ‘n gekose naam reeds gebruik word.
Inhoudskeppers, klein ondernemings en organisasies sal ook hul bestaande Instagram- of Facebook-gebruikersname kan opeis om dieselfde identiteit oor Meta se verskillende platforms te behou.
WhatsApp beklemtoon dat die nuwe stelsel met privaatheid as uitgangspunt ontwikkel is. Daar sal geen openbare gids of soekfunksie vir gebruikersname wees nie. Mense sal dus iemand se presiese gebruikersnaam moet ken voordat hulle vir die eerste keer kontak kan maak.
‘n Opsionele sekuriteitsleutel sal ook beskikbaar wees. Daarmee sal gebruikers eers ‘n unieke sleutel moet invoer voordat hulle ‘n eerste boodskap aan iemand kan stuur.
Sodra die funksie in ‘n land beskikbaar is, kan gebruikers wat die jongste weergawe van WhatsApp gebruik, ‘n gebruikersnaam kies deur na Instellings > Rekening > Gebruikersnaam te gaan.
WhatsApp sê gebruikers sal binne die toepassing in kennis gestel word wanneer die funksie in hul land beskikbaar raak.