Die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) het Donderdag ‘n reeks SPAR-jogurtprodukte herroep en verbruikers versoek om dit nie te eet nie, maar na hul naaste SPAR-winkel terug te neem.
Die herroeping raak 3 987 produkte, waaronder 11 SPAR-vetvrye, laevet-, dubbelroom- en Indulge-dubbelroomjogurts, asook SPAR Active-drinkjogurts in verskillende geure.
Volgens die NVK het ‘n masjienfout tydens die vervaardigingsproses veroorsaak dat sommige produkte opgeblaas het, wat die smaak, reuk en voorkoms daarvan kan verander.
Die betrokke produkte dra ‘n verkoop-teen-datum van 9 Augustus 2026 en ‘n gebruik-teen-datum van 12 Augustus 2026.
Die NVK se woordvoerder, Pheto Ntaba, het gewaarsku dat die gebruik van die betrokke produkte maagongesteldheid kan veroorsaak.
“Ons doen ‘n beroep op verbruikers om die betrokke produkte na die naaste SPAR-winkel terug te neem vir ‘n volle terugbetaling of omruiling. Meer besonderhede, insluitend die strepiekodes van die betrokke produkte, is op die NVK se webwerf beskikbaar,” het Ntaba gesê.
Die NVK doen ‘n beroep op verbruikers om vinnig op produkveiligheidsherroepings te reageer en enige navrae aan ProductRecall@thencc.org.za te rig.