STADE – Ses mense is Maandagmiddag dood nadat ‘n gewapende man op personeel van ‘n jeugsorgsentrum in Stade, naby Hamburg in Noord-Duitsland, losgebrand het.
Vier vroue en twee mans is in die aanval dood. Vyf slagoffers is op die toneel dood, terwyl ‘n sesde later in die hospitaal aan sy beserings beswyk het. Die polisie het gewaarsku dat die dodetal moontlik nog kan styg.
Twee mense, onder wie die vermeende skieter, is in hegtenis geneem. Volgens die polisie is die vermeende aanvaller ‘n 45-jarige Duitse burger van Turkse afkoms. Hy was glo in ‘n toesigstryd oor sy drie maande oue dogtertjie gewikkel.
Die polisie het aanvanklik gesê ‘n man en ‘n vrou is in hegtenis geneem, maar later bevestig dat ‘n derde verdagte ook aangehou word.
Ondersoekers glo nie die aanval hou verband met politiek of terrorisme nie.
“Dit is nie ‘n geval van vrouemoord nie en daar is ook geen politieke motief of iets van daardie aard nie. Dit lyk eerder na ‘n uitgebreide familietragedie,” het ‘n polisiewoordvoerder gesê.
Ooggetuies het berig dat ‘n jong man en ‘n vrou probeer vlug het in ‘n silwer Mercedes voordat die polisie hulle onderskep het. Nadat die bestuurder na bewering versuim het om stil te hou, het beamptes verskeie skote op die voertuig afgevuur en dit tot stilstand gebring.
Die jeugsorgsentrum is naby ‘n polisiestasie geleë. ‘n Tehuis vir moeders en kinders is in dieselfde gebou, maar niemand wat daarmee verbind word, is tydens die voorval beseer nie.
Die polisie het die gebied afgesper terwyl forensiese ondersoekers die toneel deursoek het. Hoewel inwoners aanvanklik gevra is om die omgewing te vermy, het die polisie later gesê daar is geen verdere gevaar vir die publiek nie.
Massaskietvoorvalle is relatief skaars in Duitsland, hoewel die land die afgelope paar jaar verskeie ernstige skietvoorvalle beleef het. In 2023 is ses mense in ‘n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in Hamburg doodgeskiet voordat die aanvaller selfmoord gepleeg het. In 2016 is nege mense in ‘n winkelsentrum in München dood toe ‘n 18-jarige man op hulle losgebrand het.