Die ruim reën wat vanjaar oor groot dele van die Wes-Kaap uitgesak het, het die vooruitsigte vir een van die mooiste veldblomseisoene in jare geskep. Gebiede soos die Biedouwvallei, Hantam en Tankwa-Karoo begin reeds met kleur spog nadat goeie winterreën die veld laat herleef het.
Die begin van die blomseisoen hang grootliks van die reënval af. Omdat swaar neerslae reeds in Mei voorgekom het, het die blomme vroeër as gewoonlik begin blom. Gewoonlik bereik die seisoen eers middel Julie sy hoogtepunt, maar vanjaar het die eerste blomtapyte reeds in middel Junie hul verskyning gemaak.
Vir baie gemeenskappe wat onlangs deur verwoestende vloede geraak is, bring die blomme nuwe hoop. Die verwagte toestroming van besoekers kan ‘n welkome ekonomiese hupstoot gee aan gastehuise, restaurante en ander toerisme-ondernemings wat ná die vloedskade probeer herstel.
Die Sederberge is die afgelope twee jaar deur sowel veldbrande as vloede getref, maar die huidige blomvertoning bied ‘n welkome ligpunt ná dié moeilike tyd.
Ook in die Hantam word ‘n besonderse blomjaar verwag. Bo-gemiddelde reënval en gunstige wintertoestande het die veld in uitstekende toestand gelaat, wat nie net toerisme bevoordeel nie, maar ook goeie nuus vir die landboubedryf is.
Die Tankwa-Karoo toon eweneens tekens van ‘n uitsonderlike blomseisoen. Indien nog opvolgreën voorkom en warm, droë oostewinde wegbly, kan die blomvertoning na verwagting tot in September voortduur.
Besoekers word intussen aangemoedig om die veld met respek te behandel. Blomme moet nie gepluk of vertrap word nie, en mense word versoek om op aangewese paaie en voetpaaie te bly en toestemming te vra voordat privaat grond betree word. Die mooiste uitsigte word gewoonlik op sonnige dae beleef wanneer die veldblomme volledig oop is