Die moordsaak waarin Martin Boitumelo Mosime (28) en Moleko Sekwaage (29) aangekla word van die moord op Hannetjie van Zyl (55), sal op 29 Oktober weer voor die hof dien.

Die twee beskuldigdes se borgtogaansoek kon nog nie voortgaan nie nadat hulle regsverteenwoordiging versoek het. Die proses is verder vertraag deur die staking by Regshulp Suid-Afrika, wat op 19 Oktober begin het.

Die staking hou verband met griewe oor onder meer salarisse, werksomstandighede en begrotingsbesnoeiings.

Sarel Pretorius, voorsitter van Agri Noordwes se komitee vir landelike veiligheid, sê die herhaalde uitstel is ’n groot teleurstelling.

“Dit is ’n verskriklike teleurstelling,” sê hy.

Volgens Pretorius laat die uitstel hom twyfel oor die etiese en morele waardes van die mense wat die saak hanteer.

Lizette Scholtz, bestuurder van die Ottosdal-boere-unie, sê sy vertrou dat die saak uiteindelik sy verloop sal neem. Sy meen die erns van die aanklagte maak die beskuldigdes se kans op suksesvolle borgtog gering.

“Ons sal die aansoek sterk beveg en hoop die regstelsel is aan ons kant,” sê sy.

Van Zyl is op 5 Oktober vermoor.

Die polisie het Mosime en Sekwaage kort ná die aanval in hegtenis geneem nadat ’n ooggetuie hulle glo geïdentifiseer het.

Volgens Scholtz word daar steeds na ’n derde verdagte gesoek, hoewel dit nog nie deur die polisie bevestig is nie. Die ooggetuie het glo gesê daar was ’n derde aanvaller, maar dié persoon was nie aan hom bekend nie.

Die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig dat die saak tot 29 Oktober uitgestel is.