Toyota Suid-Afrika het die Nampo 2026 in Bothaville gebruik as die verhoog vir ‘n historiese viering van een van die mees geliefde voertuie in die land, die Toyota Hilux en die geleentheid het alle verwagtinge oortref.
Op die eerste dag van die skou, 13 Mei, het tussen 1 500 en 2 000 Toyota Hilux-eienaars van regoor Suid-Afrika op die Nampo-terrein saamgetrek vir wat beskryf word as die grootste byeenkoms van Hilux-voertuie ooit op Suid-Afrikaanse bodem.  Die atmosfeer was elektries, met ‘n indrukwekkende mengsel van ou klassieke modelle, opgeboude werksperde en splinternuwe bakkies wat sy aan sy gestaan het.
Die skare het saam vier Guinness World Records-pogings aangepak. Deelnemers het gelyktydig hul voertuigligte aangeskakel, toeters geblaas, deure toegeslaan en bakkieklappe (tailgates) oop- en toegemaak, alles in ‘n gekoördineerde poging om rekords vir die meeste voertuie wat hierdie aksies gelyktydig uitvoer, te breek. Toyota het daarin geslaag om die rekord vir die grootste Hilux-bymekaarkoms ooit bevestig te kry.
As kersie op die koek het Toyota ook die 9de-generasie Hilux ‘n wêreld-eerste, vir die eerste keer by Nampo bekendgestel het. Die nuwe model kom met ‘n taaier, moderner voorkoms, slimmer LED-ligte, ‘n groter sierrooster, hersiene buffers en ‘n wyer wielbasis. Dit sal beskikbaar wees in Enkelkajuit, Ektra-kajuit en Dubbelkajuit-modelle, met variante soos die SRX, Raider en Legend.
Wat wel merkwaardig is dat Suid-Afrika ook ‘n 48V mild-hybrid (MHEV) weergawe ontvang ‘n teken van Toyota se toewyding aan toekomstige tegnologie. Die eerste nuwe modelle word vanaf Junie 2026 verwag.
Een gelukkige deelnemer aan die rekordpoging kon ‘n spliternuwe 9de-generasie Hilux, saam met versekering en bykomstighede, gewen het.
Toyota het ook tydens die geleentheid stories gedeel van lojale Hilux-eienaars, insluitend een bakkie met meer as 1,5 miljoen kilometer op die klok ‘n bewys van die Hilux se byna legendariese duursaamheid, veral onder die Suid-Afrikaanse boerderygemeenskap.
Die viering by Nampo, wat van 13 tot 16 Mei 2026 strek, het duisende besoekers na Toyota se uitstallimng getrek en die Hilux se kultusstatus in Suid-Afrika opnuut bevestig.