Die brandstofheffing op diesel en petrol word vanaf 4 November tydelik verlaag, het Enoch Godongwana, minister van finansies, Woensdag in sy mediumtermynbegrotingsbeleidsverklaring aan die Parlement aangekondig.
Die dieselheffing word met R3 per liter verlaag en die petrolheffing met R1,50 per liter tot en met 1 Desember.
Daarna duur die verligting teen ’n laer vlak voort tot 5 Januarie 2027. Die dieselheffing sal dan met R1,50 per liter verminder word, terwyl die petrolheffing met R1 per liter verlaag sal wees.
Die maatreël sal die staatskas na raming R10 miljard aan inkomste kos.
Die R10 miljard wat voorheen aan die Sentrale Energiefonds oorgedra is, sal aan die Nasionale Inkomstefonds terugbetaal en gebruik word om die brandstofverligting te help finansier.
Die regering vergroot ook die gebeurlikheidsreserwe tot R10 miljard om op moontlike droogte, El Niño-toestande en verdere stygings in energiepryse te reageer.
Die verligting bied veral ’n mate van beskerming aan die landbousektor, waar boere in die somergraangebiede nog groot hoeveelhede diesel tydens planttyd gebruik en wintergraanboere diesel vir stropers, balers en die vervoer van graan na silo’s benodig.
Godongwana het ook aangekondig dat die verwagte belastinginkomste vir die 2026/27-boekjaar met R17,1 miljard opwaarts aangepas is teenoor die Februarie-raming.
Die verbetering word onder meer aan hoër invorderings uit maatskappybelasting, dividendbelasting en BTW toegeskryf, terwyl hoër kommoditeitspryse ook ’n rol gespeel het.
Volgens Godongwana het die skuld-tot-BBP-verhouding in 2025/26 op 78,4% gestabiliseer. Dit sal na verwagting teen 2030 tot 76,6% en teen 2035 tot 66,6% daal.
Die begrotingstekort word vir die huidige boekjaar op 4,3% van BBP geraam, teenoor die 4,5% wat in Februarie voorspel is. Teen 2030 behoort dit volgens die minister tot 2,5% te daal.
Die groeivooruitsig vir 2026 is intussen van 1,6% tot 1,2% afgebring. Godongwana het gesê ekonomiese groei bly te laag en dat die regering strukturele hervormings, staatsvermoë en infrastruktuurlewering wil versterk.