Op 31 Oktober herdenk Protestantse kerke wêreldwyd Hervormingsdag. Wat in 1517 as ’n protes teen wanpraktyke binne die Rooms-Katolieke Kerk begin het, het uiteindelik gelei tot ’n ingrypende terugkeer na die Bybel, die betekenis van geloof en die weg tot verlossing.
Die Protestantse Hervorming het sy oorsprong in die vroeë 16de eeu gehad, ’n tyd waarin die Rooms-Katolieke Kerk ’n oorheersende rol in die godsdienstige, politieke en maatskaplike lewe van Wes-Europa gespeel het. Hoewel die kerk groot invloed uitgeoefen het, het verskeie wanpraktyke en vorme van magsmisbruik toenemend kritiek ontlok.
Een van die grootste geskilpunte was die handel in aflate. Die praktyk het by baie mense die wanindruk gewek dat hulle deur geldelike bydraes vergifnis van sondes of verligting van kerklike strawwe kon verkry. Daarby was die Bybel vir die meeste gewone gelowiges nie maklik toeganklik nie, veral nie in ’n taal wat hulle self kon lees en verstaan nie.
Dit was teen hierdie agtergrond dat Martin Luther, ’n Duitse monnik en professor in teologie, op 31 Oktober 1517 sy 95 stellinge bekend gemaak het. Hy het dit aan die deur van die kerk in Wittenberg vasgespyker.
Luther se aanvanklike doel was om ’n teologiese gesprek oor die aflaathandel en die noodsaaklikheid van ware bekering aan die gang te sit. Sy optrede het egter ’n veel groter beweging ontketen en word vandag algemeen as die simboliese begin van die Protestantse Hervorming beskou.
Die Skrif as hoogste gesag
Vir Luther het die stryd nie bloot oor misbruike binne die kerk gegaan nie. Die kernvraag was waarop die Christelike geloof gegrond behoort te wees.
Hy het aangevoer dat die Heilige Skrif die hoogste maatstaf vir die kerk se leer en verkondiging moet wees, eerder as menslike opvattings of kerklike gebruike wat nie met die Bybel ooreenstem nie.
Romeine 1:17, met die woorde “Die regverdige sal uit die geloof lewe”, het ’n besondere rol in Luther se verstaan van die evangelie gespeel.
Hieruit het sy oortuiging gegroei dat die mens nie deur eie prestasies, goeie werke of geldelike bydraes voor God regverdig verklaar word nie. Verlossing is volgens hom ’n onverdiende gawe van God wat deur geloof in Jesus Christus ontvang word.
Hierdie standpunt het hom uiteindelik in regstreekse botsing met die kerklike owerhede gebring.
In 1521 moes Luther voor die Ryksdag van Worms verskyn, waar hy gevra is om sy geskrifte terug te trek. Hy het geweier om dit te doen tensy hy uit die Skrif of deur oortuigende argumente van sy dwaling bewys kon word.
Sy standpunt word dikwels weergegee met die bekende woorde:
“My gewete is ’n gevangene van God se Woord. Ek kan en sal niks herroep nie, want om teen my gewete op te tree is nóg veilig, nóg geoorloof. Hier staan ek. Ek kan nie anders nie. God help my. Amen.”
Toe hy weer weier om sy geskrifte terug te trek, is hy tot ketter verklaar en is die ryksban op hom toegepas.
Vyf beginsels wat die Hervorming saamvat
Die teologiese uitgangspunte van die Hervorming is later in vyf Latynse uitdrukkings, bekend as die vyf solas, saamgevat:
- Sola Scriptura – Die Skrif alleen: Die Bybel alleen is die hoogste gesag vir geloof en lewe.
- Sola Fide – Geloof alleen: Die mens word deur geloof alleen geregverdig
- Sola Gratia – Genade alleen: Redding is ‘n vrye gawe van God se genade; mense kan dit nie verdien nie.
- Solus Christus – Christus alleen: Jesus Christus is die enigste Middelaar tussen God en die mens.
- Soli Deo Gloria – Aan God alleen die eer: Alle eer en heerlikheid behoort uiteindelik aan God.
Hierdie beginsels het die grondslag gevorm van die geloofsoortuigings wat deur Protestantse kerke uitgedra is.
’n Beweging wat oor Europa versprei het
Luther se invloed was nie tot sy prediking en teologiese geskrifte beperk nie. Hy het die Nuwe Testament in Duits vertaal en later ook aan ’n vertaling van die volledige Bybel gewerk. Dit het gewone mense in staat gestel om die Skrif in hul eie taal te lees en het terselfdertyd ’n groot bydrae tot die ontwikkeling van die Duitse skryftaal en geletterdheid gelewer.
Intussen het die hervormingsbeweging ook elders in Europa momentum gekry. Hervormers soos Ulrich Zwingli en Johannes Calvyn het ’n belangrike rol gespeel in die verdere ontwikkeling en verspreiding van Protestantse geloofsoortuigings.
Die gevolge daarvan het veel verder as die kerklike lewe gestrek. Die Hervorming het ook ’n blywende invloed op die Europese samelewing, onderwys en kultuur gehad.
Die gereformeerde geloofstradisie wat uit hierdie tydperk voortgekom het, het later ook diep spore in Suid-Afrika getrap en ’n belangrike deel van die Afrikaner se godsdienstige en kulturele geskiedenis geword.
Waarom Hervormingsdag steeds betekenis het
Meer as vyf eeue ná Luther se optrede in Wittenberg bly Hervormingsdag ’n herinnering aan die noodsaaklikheid daarvan om die kerk se leer en praktyke voortdurend aan die Heilige Skrif te toets.
Die Hervorming het beklemtoon dat die kerk nie bloot op menslike gesag, gevestigde gebruike of oorgelewerde tradisies mag staatmaak nie. Dit moet telkens terugkeer na die Woord van God as die maatstaf vir geloof en lewe.
Die kernboodskap wat deur die Christene verkondig is, bly dieselfde: Verlossing is uit genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen, soos die Skrif leer, en alles tot eer van God alleen.