’n Dringende waarskuwing is aan Vrystaatse boere gerig nadat veediefstal die afgelope tyd skerp toegeneem het.

Volgens die private ondersoekmaatskappy SA Polygraph & Investigation Services is vee ter waarde van sowat R8 miljoen in die afgelope maand in die provinsie gesteel. Meer as 1 600 beeste en 730 skape is tussen middel September en middel Oktober gesteel.

Die maatskappy waarsku dat die omvang en patroon van dié misdaad ’n ernstige bedreiging vir die landbougemeenskap inhou en boere se lewensbestaan en finansiële volhoubaarheid raak.

Boere word aangemoedig om proaktief op te tree en nou saam met die private sektor, die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag te werk om veediefstal te bekamp.

Jurg Kruger, bedryfshoof en senior ondersoeker van SA Polygraph & Investigation Services, sê 282 van die gesteelde beeste is in die Dewetsdorp-omgewing gesteel.

Volgens hom het veediefstal van beeste die afgelope tyd skerp toegeneem, veral in dié omgewing. Van die vee wat by die jongste syfers ingesluit is, is sommige reeds teruggevind.

Kruger sê veediefstal bly ’n groot probleem oor die hele Vrystaat, maar dat skape veral in die Oos-Vrystaat geteiken word.

Hy waarsku ook dat die sindikate wat by dié misdaad betrokke is, oor provinsiale grense heen werk.

SA Polygraph & Investigation Services was onlangs betrokke by die opsporing van vier mans wat ’n trop van sowat 14 bokke en 20 skape in ’n rooftog op ’n plaas in Christiana in Noordwes gebuit het.

’n Plastiekpistool is later in hul besit gevind en die vee is teruggevind.

Kruger sê al vier verdagtes is van Welkom afkomstig, wat volgens hom daarop dui dat sindikate hul misdaadnetwerke oor provinsiale grense heen uitbrei.

Jan van Niekerk, leier van die VF Plus in die Vrystaat en ’n boer in die Oos-Vrystaat, sê die werklike verlies weens veediefstal kan aansienlik meer as R8 miljoen wees.

Volgens hom kan jong speenkalwers en goedkoper skape alleen reeds minstens R15 miljoen werd wees. Indien dragtige verse of bulle onder die gesteelde diere was, kan die werklike verlies selfs groter wees.

Van Niekerk sê boere bestee reeds miljoene rande aan private veiligheidsmaatreëls en kamerastelsels om hul vee te beskerm.

Hy meen die staat moet groter verantwoordelikheid neem om veediefstal te voorkom en diewe vas te trek.

Volgens hom meld baie boere nie eens meer voorvalle by die polisie aan nie omdat hulle meen sake word nie voldoende ondersoek nie.

Die VF Plus sê hy gaan die Vrystaatse LUR vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer, Jabu Mbalula, vra hoeveel veediefstalsake aangemeld is en hoeveel daarvan tot inhegtenisnemings en suksesvolle vervolgings gelei het.

Die party wil ook met die departement vergader oor die toepassing van die landelike veiligheidstrategie.

Van Niekerk sê dié strategie moet behoorlik toegepas word om veediefstal te voorkom en boere en hul eiendom beter te beskerm.