Washington, D.C.- Die verhouding tussen die Verenigde State en Iran kan moontlik besig wees om te verbeter. President Donald Trump het Maandag sy ultimatum oor die veilige deurgang van skepe deur die Straat van Hormuz met vyf dae verleng. Die besluit kom terwyl gesprekke tussen die twee lande voortduur.
Trump sê daar is tans onderhandelinge aan die gang en dat daar hoop is op ’n positiewe uitkoms. Hy het ook aangedui dat die VSA werk aan planne om skeepsverkeer in die gebied veiliger te maak.
Die Straat van Hormuz is ’n belangrike roete vir wêreldolie, en spanning daar het die afgelope tyd toegeneem ná verskeie voorvalle en militêre opbou. Kenners meen die verlenging van die ultimatum wys dat daar ruimte gelaat word vir diplomasie, eerder as verdere eskalasie. Dr. Samantha Vermaak sê dit is ’n teken dat beide kante nog bereid is om te onderhandel en moontlik tot ’n groter ooreenkoms kan werk.
Iran het nog nie amptelik gereageer nie, maar daar is aanduidings dat gesprekke kan voortgaan. Die internasionale gemeenskap hou die situasie fyn dop, met die hoop dat spanning in die gebied sal afneem.