Die ekstreme oopwater-atleet Ryan Stramrood het nog ’n merkwaardige prestasie op sy kerfstok: hy het slegs die derde persoon geword om ’n ultramarathonswem rondom die vulkaniese St Helena-eiland in die Suid-Atlantiese Oseaan te voltooi.
Stramrood, wat bekend is vir sy uithouvermoë as langafstand- en yswemmer, het met dié prestasie ook ’n nuwe rekord opgestel. Hy het die 47 km-roete in 16 uur, 50 minute en 42 sekondes voltooi – ’n tyd wat nog amptelik bevestig moet word. Hy is boonop die tweede Suid-Afrikaner wat dié uitdaging suksesvol aanpak.
Volgens Stramrood was die swem besonder uitdagend, hoofsaaklik weens die onstuimige see. Hy het die toestande beskryf asof hy in ’n “wasmasjien” vasgevang was, met geen kans om in ’n ritme te kom nie.
“Dit het gelyk na ’n goeie weergeleentheid, maar dit was beslis nie die beste dag nie. Ek het Woensdag om middernag begin swem, dus eers deur die nag en toe regdeur Donderdag, vir altesaam 16 uur, tot net voor vyf die middag,” het hy gesê.
Die uitputtende poging het ook sy tol geëis. In ’n onderhoud ’n dag ná die swem het Stramrood om verskoning gevra vir sy hees stem, en verduidelik dat sy keel erg deur soutwater aangetas is.“Dit was vir my ’n ongelooflik rowwe swem, maar ek het ’n sterk span gehad wat my deurgedra het.”
Hoewel sy liggaam nog broos voel ná die poging, sien Stramrood nou uit na ’n week van verkenning op St Helena – ’n afgeleë eiland sowat 2 000 km wes van Angola se kus.