’n Beweerde konsepweergawe van die memorandum van verstandhouding tussen die VSA en Iran wat tans aanlyn versprei word, dui daarop dat Washington bereid kan wees om omvangryke sanksieverligting aan Teheran toe te staan en toegang tot bevrore bates te herstel, terwyl kernkwessies vir toekomstige onderhandelinge uitgestel word.
Die dokument van 14 punte het Dinsdag na vore gekom terwyl die Amerikaanse president, Donald Trump, toenemende druk van Israel en skeptiese Republikeine in die Kongres ervaar om die inhoud van die geheimsinnige ooreenkoms bekend te maak.
Trump het gesê die memorandum is elektronies onderteken, maar sal eers ná die amptelike ondertekening in Switserland Vrydag openbaar gemaak word.
Visepresident J.D. Vance het gesê die VSA het nog nie die dokument van ongeveer een en ’n halwe bladsy bekend gemaak nie omdat amptenare die proses “in die regte volgorde” wil bestuur.
Israel, wat sy kommer oor die ooreenkoms uitgespreek het, het glo versoek om die finale teks te sien, maar dié versoek is volgens berigte geweier.
Hier volg die eerste tien punte van die beweerde ooreenkoms soos dit deur Arabiese en Israeliese media versprei is. Die Withuis het nie die egtheid van die dokument bevestig nie en die inhoud kon nie onafhanklik geverifieer word nie:
- Iran, die Verenigde State en hul bondgenote in die huidige oorlog verklaar met die ondertekening van die memorandum ’n onmiddellike en permanente einde aan die oorlog op alle fronte, insluitend Libanon. Hulle onderneem om geen vyandelike optrede meer teen mekaar te loods of geweld teen mekaar te gebruik of daarmee te dreig nie.
- Iran en die Verenigde State verbind hulle daartoe om mekaar se soewereiniteit en territoriale integriteit te respekteer en nie in mekaar se binnelandse sake in te meng nie.
- Die twee lande onderneem om binne ’n maksimum tydperk van 60 dae, wat met wedersydse toestemming verleng kan word, ’n finale ooreenkoms te onderhandel en te bereik.
- Sodra die memorandum onderteken word, sal die Verenigde State die vlootblokkade teen Iran ophef en verseker dat geen verdere belemmering van Iran plaasvind nie. Skeepsverkeer moet binne 30 dae na vooroorlogse vlakke herstel word. Die VSA onderneem ook om sy magte binne 30 dae ná ’n finale ooreenkoms uit omliggende gebiede te onttrek.
- Iran verbind hom daartoe om onmiddellik stappe te doen om handelskepe weer vrylik tussen die Persiese Golf en die Golf van Oman te laat beweeg. Skeepsverkeer moet binne 30 dae na die vlakke van voor die oorlog herstel word, met inagneming van die verwydering van tegniese hindernisse en die opruiming van myne.
- Die Verenigde State onderneem saam met sy streekvennote om ’n omvattende plan vir Iran se ekonomiese herstel en ontwikkeling op te stel. Die plan moet minstens 300 miljard dollar se finansiering verseker. Die uitvoeringsmeganisme moet binne 60 dae uitgewerk word.
- Die VSA verbind hom daartoe om volgens ’n skedule wat in die finale ooreenkoms bepaal sal word, alle sanksies teen Iran te beëindig. Dit sluit VN-sanksies, maatreëls van die Internasionale Atoomenergie-agentskap en alle Amerikaanse primêre en sekondêre sanksies in.
- Iran herhaal dat hy nooit kernwapens sal vervaardig nie. Die twee lande stem saam dat die toekoms van verrykte uraan en ander kernverwante kwessies in die finale ooreenkoms afgehandel sal word.
- Totdat ’n finale ooreenkoms bereik word, sal die huidige toestand gehandhaaf word. Iran sal geen veranderinge aan sy kernprogram aanbring nie, terwyl die VSA geen nuwe sanksies sal instel of sy militêre teenwoordigheid in die streek sal uitbrei nie.
- Die VSA onderneem om onmiddellik ná die ondertekening van die memorandum vrystellings toe te staan vir die uitvoer van Iranse ruolie, petrochemiese produkte en verwante dienste soos bankwese, versekering en vervoer totdat sanksies formeel opgehef word.
- Die Verenigde State onderneem om, in die lig van die vordering wat gemaak word met onderhandelinge oor ’n finale ooreenkoms, Iran se bevrore of beperkte fondse en bates vry te stel en volledig beskikbaar te maak. Hierdie fondse, ongeag of dit in hoofrekeninge gehou of oorgeplaas word, sal gebruik kan word vir enige betalings wat deur die Sentrale Bank van Iran goedgekeur word. Die VSA verbind hom daartoe om alle nodige permitte en lisensies hiervoor uit te reik.
- Iran en die Verenigde State stem saam dat ’n implementeringsmeganisme geskep sal word om toesig te hou oor die uitvoering van die finale ooreenkoms en om te verseker dat beide partye hul toekomstige verpligtinge nakom.
- Nadat die memorandum onderteken is, en sodra Iran verseker is dat die bepalings van artikels 4, 5, 10 en 11 in werking gestel word en steeds toegepas word, sal Iran en die Verenigde State begin onderhandel oor ’n finale ooreenkoms wat fokus op die oorblywende bepalings.
- Die finale ooreenkoms sal deur middel van ’n bindende resolusie van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad goedgekeur word.