Die Amerikaanse president, Donald Trump, het Dinsdag ongewoon skerp kritiek uitgespreek teen Israel se militêre optrede in Libanon teen Hezbollah. Volgens hom is dit onnodig om hele woonstelblokke te bombardeer in ’n poging om militante uit te skakel.
Trump, wat die afgelope paar dae reeds sy ontevredenheid uitgespreek het oor Israeliese aanvalle op Beiroet, het gesê dié aanvalle kon sy vredesooreenkoms met Iran in gevaar gestel het.
Hy het gesê Israel voer reeds te lank oorlog teen Hezbollah, die Libanese militante groep wat deur Iran ondersteun word.
“Te veel mense is dood. Jy hoef nie elke keer ’n woonstelgebou plat te gooi wanneer jy iemand soek nie, want daar woon baie mense in daardie geboue, en hulle is nie almal Hezbollah nie,” het Trump tydens die G7-beraad in Frankryk gesê.
Die opmerkings kom te midde van toenemende spanning tussen Trump en die Israeliese eerste minister, Benjamin Netanyahu. Hoewel die twee leiers oor die jare ’n noue politieke verhouding gehad het, het meningsverskille onlangs meer na vore gekom.
Israeliese amptenare is glo ongelukkig oor die vredesooreenkoms wat Trump met Iran bereik het, terwyl Trump toenemend gefrustreerd raak met Israel se aanvalle op Beiroet. Volgens hom het dié aanvalle plaasgevind terwyl hy besig was om die vredesooreenkoms af te handel.
Trump het gesê hy het steeds ’n “uitstekende verhouding” met Netanyahu, maar meen die Israeliese leier moet meer verantwoordelik optree in Libanon.
“Sonder ons, sonder die Verenigde State, sou daar geen Israel gewees het nie. Sonder my sou daar geen Israel gewees het nie, want geen ander president was bereid om te doen wat ek gedoen het nie,” het hy gesê.
Die twee leiers het reeds verskeie kere gebots oor Israel se militêre optrede teen Hezbollah in Libanon. Iran het herhaaldelik aangedring dat enige vredesooreenkoms ook ’n einde aan die konflik in Libanon moet insluit.
Kort nadat Trump sy opmerkings gemaak het, het ’n amptelike Withuis-rekening op sosiale media ’n video van sy kommentaar versprei.
Die Withuis het later beklemtoon dat Trump steeds ’n sterk verhouding met Netanyahu handhaaf en die Israeliese weermag as ’n belangrike bondgenoot beskou.
“Daar was geen groter vriend van Israel en kampvegter vir vrede as president Trump nie. Amerikaners en ons bondgenote is reeds veiliger danksy die Verenigde State en Israel se optrede om te verhoed dat Iran kernwapens ontwikkel,” het ’n Withuis-amptenaar gesê.
Daar is egter geen aanduiding dat Trump se kritiek tot beleidsveranderinge sal lei wat Israel sal dwing om sy militêre taktiek aan te pas nie.
Israel het die afgelope maande toenemende internasionale kritiek ontlok oor sy militêre optrede, veral in Gaza waar volgens die Gazaanse gesondheidsowerhede sowat 73 000 mense reeds gesterf het. Die meeste van die slagoffers sou burgerlikes wees.
Israel ontken dat burgerlikes doelbewus geteiken word en voer aan dat groepe soos Hamas en Hezbollah dikwels burgerlikes as menslike skilde gebruik.
Die Israeliese ambassade in Washington het nie kommentaar oor Trump se opmerkings gelewer nie.