TLU SA sê die moord op die 55-jarige Hannetjie van Zyl plaas opnuut die kollig op veiligheid in landelike gebiede en wys dat plaasaanvalle nie as losstaande voorvalle beskou kan word nie.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê daar is ’n volgehoue veiligheidsprobleem in landelike gemeenskappe en dat duideliker politieke leiding nodig is.

Volgens TLU SA se eie voorvalregister is 26 plaasaanvalle en drie plaasmoorde in Augustus 2026 aangeteken. In September is 17 aanvalle aangemeld, terwyl daar in die eerste sewe dae van Oktober reeds sewe plaasaanvalle en een plaasmoord aangeteken is.

Die organisasie sê 32 plaasmoorde is in 2024 aangeteken en 23 in 2025. Teen 7 Oktober vanjaar het dié syfer volgens TLU SA reeds op 27 gestaan.

TLU SA het president Cyril Ramaphosa gevra om duideliker leiding oor landelike veiligheid te gee en te wys dat dié kwessie ernstig opgeneem word. Die organisasie sê die hersiening van die Nasionale Landelike Veiligheidstrategie moet dringend afgehandel en toegepas word. Die landelike gemeenskappe nie nog beloftes nodig nie, maar ’n werkbare veiligheidsplan en die politieke wil om dit uit te voer.

Dit volg ná die dood van Hannetjie van Zyl, wat Maandagaand op ’n plaas langs Doornpanweg buite Ottosdal aangeval is. Volgens die polisie is sy verskeie kere met ’n ysterstaaf teen die nek en kop geslaan. Haar man, Sarel, het haar ná die aanval gevind en hulp ontbied. Van Zyl is na ’n hospitaal in Klerksdorp geneem, maar het later aan haar beserings beswyk. Haar handsak en selfoon is volgens vroeëre inligting tydens die aanval gesteel.

Twee mans, onderskeidelik 32 en 33 jaar oud, is intussen in verband met die moord in hegtenis geneem. Hulle sal na verwagting Donderdag in die Ottosdal-landdroshof op aanklag van moord verskyn. Die polisie soek steeds na ’n derde verdagte.

Luitenant-generaal Arthur Peter Adams, Noordwes se provinsiale polisiekommissaris, het die aanval veroordeel en die ondersoekspan geloof vir die vinnige inhegtenisnemings. Hy sê veiligheid in landelike gebiede bly ’n prioriteit en het gemeenskappe gevra om verdagte bedrywighede aan te meld en met wetstoepassers saam te werk.