ORANIA – Die jongste jaarlikse meningspeiling onder Orania se inwoners toon dat die meeste deelnemers beplan om in die dorp te bly, terwyl meer as die helfte sê hulle woon daar weens “die ideaal van vryheid vir Christen Afrikaners”.
Die opname, wat deur die Orania Dorpsraad se kommunikasie-afdeling behartig is, het onder meer inwoners se mening oor dienslewering, projekte, vertroue, die Amerikaanse vlugtelingprogram en geloof getoets. Die doel was om ‘n verteenwoordigende insig te kry in hoe Orania se inwoners oor ‘n verskeidenheid onderwerpe dink.
Burger Lambrechts was verantwoordelik vir die opname en die bekendstelling van die uitslae.
Die meningspeiling is nou ‘n jaarlikse instelling. Die eerste opname in dié formaat is in 2025 gedoen, hoewel soortgelyke opnames reeds sedert 2022 plaasvind. Omdat ‘n wesenlike deel van Orania se volwasse bevolking deelgeneem het, sê die Dorpsraad die opname bied ‘n groot mate van statistiese sekerheid.
Een van die vrae was hoe waarskynlik dit is dat inwoners nog lank in Orania sal woon. Die gemiddelde telling was 8 uit 10, vergeleke met 7,7 uit 10 in 2025.
Toe deelnemers gevra is waarom hulle moontlik Orania sou verlaat, het 43% gesê hulle het geen rede nie omdat hulle glad nie beplan om weg te gaan nie. Redes wat wel genoem is, sluit finansiële omstandighede en moontlike wrywing met owerhede in.
Meer as 56% van die deelnemers het gesê hulle woon in Orania weens “die ideaal van vryheid vir Christen Afrikaners”. Ander redes wat genoem is, sluit veiligheid en die plattelandse atmosfeer in.
Die opname het ook inwoners se mening oor die Amerikaanse vlugtelingprogram getoets. Die program het ‘n gemiddelde telling van 2,2 uit 10 gekry.
Inwoners is verder gevra hoe gelukkig hulle is aan die hand van ‘n internasionaal erkende gelukkigheidsindeks te beoordeel. Die vraag het gelui:
“Stel jou lewe voor as ‘n leer. Onderaan (1) is die slegste moontlike lewe en op die tiende trap is die beste moontlike lewe.”
Orania se inwoners het hul lewens gemiddeld op 6,8 uit 10 beoordeel.
Ter vergelyking het Finland 7,7, Noorweë 7,5 en Switserland 7,3 behaal. Suid-Afrika se gemiddelde telling was 5,0, terwyl Lesotho (4,1), Namibië (3,6), Botswana (3,4) en Zimbabwe (3,4) laer tellings aangeteken het. Orania se telling is dieselfde as dié van die Verenigde State.