Sommige openbare gesondheidsfasiliteite in Gauteng sukkel tans met tekorte aan sekere medisyne, het die provinsiale departement van gesondheid erken.

Volgens die departement word die probleme onder meer veroorsaak deur vertragings by verskaffers, veranderinge aan medisynekontrakte en groter druk op die voorsieningsketting.

Die tekorte kom te midde van klagtes van pasiënte by openbare klinieke en hospitale oor die beskikbaarheid van medisyne, veral chroniese medikasie.

Die departement sê ’n tekort aan ’n spesifieke handelsmerk, verpakkingsgrootte of produk van ’n bepaalde verskaffer beteken egter nie noodwendig dat ’n pasiënt sonder behandeling gelaat sal word nie.

Waar ’n bepaalde middel nie beskikbaar is nie, kan fasiliteite volgens die departement dieselfde medisyne van ’n ander goedgekeurde vervaardiger of in ’n ander verpakkingsgrootte verskaf. Waar dit klinies geskik is, kan ’n alternatiewe middel volgens die standaardbehandelingsriglyne voorgeskryf word.

Voorraad kan ook tussen fasiliteite en distrikte verskuif word wanneer daar tekorte op een plek en beskikbare voorraad op ’n ander is. Dringende medisyne kan verder van ander goedgekeurde verskaffers verkry word.

Steve Mabona, woordvoerder van Gauteng se departement van gesondheid, sê die departement besef dat medisynetekorte kommer en ongerief kan veroorsaak, veral vir pasiënte wat van chroniese medikasie afhanklik is.
Hy sê die beskikbaarheid van medisyne word deurlopend gemonitor en dat ingrypings gedoen word om onderbrekings in behandeling sover moontlik te beperk.

Die provinsie werk ook saam met die nasionale Departement van Gesondheid om die voorsieningsprobleme te probeer verlig.