Die landdroshof in Oos-Londen word na verwagting Vrydag die middelpunt van verhoogde sekuriteit en politieke spanning wanneer voorvonnisverrigtinge in die vuurwapensaak teen Julius Malema afskop. Busse met ondersteuners van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) is reeds op pad, terwyl groepe in rooi barettes by verskeie lughawens opgemerk is.
Malema, die leier van die EFF, is in Oktober verlede jaar deur die hof skuldig bevind op vyf aanklagte wat verband hou met die oortreding van Suid-Afrika se vuurwapenwetgewing. Die saak spruit uit ’n voorval tydens die EFF se vyfde verjaarsdagviering in 2018 by die Sisa Dukashe-stadion in Mdantsane, waar Malema na bewering ’n vuurwapen afgevuur het.
Die klagtes teen hom sluit in die afvuur van ’n vuurwapen binne ’n beboude gebied, die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, asook die versuim om die veiligheid van persone en eiendom te verseker. In sommige gevalle kan dié oortredings tot lang gevangenisstrawwe lei, met minimum vonnisse van tot 15 jaar.
Afriforum het kort ná die voorval ’n formele klag ingedien, waarna die staat die saak vervolg het. Beeldmateriaal van die insident, wat wyd op sosiale media versprei is, toon hoe Adriaan Snyman — Malema se destydse lyfwag — ’n vuurwapen aan hom oorhandig voordat dit afgevuur word. Snyman is aanvanklik ook aangekla, maar is later van vervolging onthef.
Die staat het in totaal 19 getuies geroep. Nadat die staat sy saak gesluit het, het Malema en Snyman aansoek gedoen om ontslag ingevolge artikel 174 van die Strafproseswet. Die hof het egter beslis dat daar voldoende getuienis is en die aansoek van die hand gewys.
Die hof sal nou oorgaan tot betoë oor moontlike strafverswaring en strafversagting. Dit is tans nog onbekend hoeveel getuies in hierdie fase aangehoor sal word.
Sou Malema tot ’n gevangenisstraf van langer as 12 maande sonder die opsie van ’n boete gevonnis word, sal hy ingevolge wet nie sy setel in die parlement mag behou nie.
Jacques Broodryk, Afriforum se hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, sê die hofuitspraak onderstreep die beginsel dat politieke status nie strafregtelike aanspreeklikheid kanselleer nie.