KAAPSTAD – Die veroordeelde pedofiel en voormalige onderwyser, Iain Wares, sal eers op 24 Augustus weer in die Wynberg-streekhof verskyn nadat ‘n omvattende siekbrief bevestig het dat hy tot 28 Julie siekverlof toegestaan is.
Die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), Eric Ntabazalila, het bevestig dat die hof op 24 Augustus vonnisbetoë sal aanhoor en dat die verdediging dan ook sy verslae sal voorlê.
Die hof het verlede week gehoor dat Wares ná ‘n hospitaalkonsultasie met gordelroos gediagnoseer is. Die behandelende dokter het volgens die siekbrief bevestig dat hy erge pyn ervaar.
Wares se regsverteenwoordiger, William Fullard, het vroeër aan die hof gesê die medikasie wat sy kliënt gebruik, maak hom lomerig en onvas op sy voete, wat beteken hy sou nie die hofverrigtinge behoorlik kon volg nie.
Die organisasie Women and Men Against Child Abuse (WMACA) het gesê hoewel daar verdere vertraging is, lyk dit of die saak nou eindelik sy einde nader. Die organisasie het egter gewaarsku dat slegs ‘n mediese praktisyn Wares se gesondheidstoestand akkuraat kan bepaal, maar dat dit nie onredelik sou wees om te vermoed dat nog ‘n vertragingstaktiek moontlik aangewend word nie. Volgens WMACA kom swak gesondheid dikwels by bejaarde oortreders voor en kan dit maklik as rede vir uitstel aangevoer word, veral wanneer vonnisoplegging nader.
Die organisasie het ook daarop gewys dat die saak reeds drie en ‘n half jaar sloer. Wares is in Maart 2026 skuldig bevind aan die onsedelike aanranding van ‘n 12-jarige seun aan ‘n plaaslike skool gedurende die 1980’s, maar is steeds op borgtog vry.
WMACA het verder aangevoer dat die herhaalde uitstelle die slagoffer opnuut benadeel en ‘n beroep op die regstelsel gedoen om sy verbintenis tot kinderbeskerming te toon deur dié gevaarlike pedofiel gevangenisstraf op te lê.
Wares, ‘n voormalige onderwyser aan Rondebosch Boys’ Primary School, veg ook in ‘n afsonderlike saak teen sy uitlewering na die Verenigde Koninkryk, waar hy op 90 aanklagte van seksuele en fisieke mishandeling van 65 seuns aangekla word.
Hy bly intussen op sy verlengde borgtog van R10 000 vry hangende die afhandeling van die saak.