Iran het Golfstate gewaarsku dat enige nuwe Amerikaanse aanval op sy grondgebied met vergeldingsaanvalle op kritieke energie-infrastruktuur regoor die Golfstreek beantwoord sal word.
Volgens  bronne het die waarskuwing gevolg nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, op 28 Julie gedreig het om Iran se energie-infrastruktuur te teiken.
Die Iraanse minister van buitelandse sake, Abbas Araqchi, het volgens die bronne met sy ampsgenote in Saoedi-Arabië, Turkye en Katar, asook Pakistan se weermaghoof, in verbinding getree.
Araqchi het Washington se bondgenote in die Golf versoek om hul invloed by Trump aan te wend om hom van verdere militêre optrede teen Iran te laat afsien.
Volgens ‘n senior diplomaat was Araqchi se boodskap deurgaans dieselfde: Iran is gereed om terug te slaan, maar ‘n diplomatieke oplossing bly die beste manier om verdere eskalasie en vernietiging in die streek te voorkom.
‘n Bron uit die Golfstreek het gesê Iran se waarskuwing was ondubbelsinnig: indien die VSA Iran se infrastruktuur aanval, sal Teheran energie-infrastruktuur en ander teikens in die Golfstreek aanval.
Volgens die bronne was die waarskuwing vir al die Golfstate bedoel, maar is dit hoofsaaklik deur Saoedi-Arabië en Katar oorgedra.
Volgens die bronne het die Saoediese kroonprins, Mohammed bin Salman, daarna met Trump gepraat en hom aangemoedig om militêre optrede uit te stel, na onderhandelinge terug te keer, ‘n skietstilstand te steun en ‘n diplomatieke oplossing na te streef.
Trump het op 2 Augustus gesê hy het ingestem om die beplande aanval op Iran te kanselleer, mits ‘n ooreenkoms vinnig bereik kan word.
Volgens ‘n Iraanse amptenaar sal enige nuwe Amerikaanse aanval met aanvalle op raffinaderye, olievelde, elektrisiteitsnetwerke, waterinfrastruktuur, vervoernetwerke en ander energiefasiliteite in die Golf beantwoord word.
“Indien Iran skade ly, sal dit veel groter skade terugveroorsaak,” het die amptenaar gesê.
Hy het ook verwys na die hommeltuig- en missielaanval op Saoedi-Arabië se Aramco-olie-aanlegte in 2019, wat meer as die helfte van die koninkryk se ruolieproduksie tydelik ontwrig het.
Volgens die bronne probeer Iran met dié waarskuwing die ekonomiese en strategiese koste van verdere Amerikaanse militêre optrede verhoog en Golfstate aanmoedig om druk op Washington uit te oefen om ‘n diplomatieke oplossing te verkies.