’n Vrou wat R552 000 aan ongeskiktheidsvoordele ontvang het nadat sy beweer het dat artritis haar gestremd gelaat het, is tronk toe gestuur nadat sy betrap is terwyl sy aan ’n 10 km-wedloop deelgeneem het.
Helen Green van Shrewsbury in die Verenigde Koninkryk was lid van ’n hardloopklub en het die wedloop in net meer as ’n uur voltooi. CCTV-beeldmateriaal het ook gewys dat sy gereeld aan verskeie gimnasiumklasse deelgeneem het.
Volgens berigte het die 49-jarige aan die Departement van Werk en Pensioene (DWP) gesê dat ernstige rumatoïede artritis in al haar gewrigte, asook ’n skyfprobleem in haar rug, haar aan huis gebind het.
Sy het verder beweer dat haar toestand ongeneeslik is en mettertyd sou vererger. Volgens haar kon sy nie langer as vyf minute sonder krukke loop nie.
Sy het ook gesê dat sy hulp nodig het met basiese daaglikse take soos was, bad, aantrek, kos maak en eet en drink.
Die DWP het egter op ’n wenk gereageer en vasgestel dat sy gereeld aan verskeie fiksheidsklasse deelneem, insluitend Zumba, Body Combat, Body Pump, Core Blast en Spin-klasse.
Green is uiteindelik tot sewe maande tronkstraf gevonnis.