KANSAS CITY – ‘n Man in Kansas City in die Amerikaanse deelstaat Missouri is ná sowat agt uur uit ‘n mobiele toilet bevry nadat hy volgens sy eie weergawe daarin vasgekeer geraak het toe hy sy koeldrank, ‘n Mountain Dew, probeer terugkry het.
Volgens die man het hy die vorige aand die mobiele toilet gebruik toe hy die koeldrank daarin laat val het. Hy het daarna probeer inklim om dit uit te haal, maar kon nie weer uitklim nie.
Die volgende oggend het werknemers van Patriot Portable Restrooms opgedaag om die mobiele toilet ná ‘n geleentheid te verwyder. Terwyl hulle besig was, het hulle geluide uit die toilet gehoor.
Die maatskappy het later ‘n video van die voorval op sosiale media gedeel. Volgens die maatskappy het die werkers die man hoor klop en om hulp hoor roep. Toe hulle hom opspoor, was net die bokant van sy kop sigbaar.
Die brandweer is ontbied en moes die plastiekvoorkant van die mobiele toilet oopbreek om die man te bevry.
Nadat hy uit die benarde situasie gehaal is, het die maatskappy hom ‘n gratis stort aangebied voordat hy sy weg kon vervolg.
Volgens berigte was die mobiele toilet nie skoon nie. Daar is ook bespiegel dat die man moontlik nie nugter was toe die voorval plaasgevind het nie, maar daar is geen amptelike bevestiging daarvan nie.