Die Springbokke sal hul langverwagte toetsreeks teen die All Blacks later vandeesmaand in ‘n spesiaal ontwerpte trui aanpak wat slegs tydens die vier toetse van die Rugby’s Greatest Rivalry Tour gedra sal word.
Nike en SA Rugby het Woensdag die nuwe Springboktrui bekend gestel. Die eerste toets teen Nieu-Seeland word op 22 Augustus op Ellispark gespeel en bring ‘n einde aan ‘n wagtyd van 30 jaar sedert die twee rugbymoondhede laas ‘n volledige toetsreeks teen mekaar gespeel het.
Die trui bevat ‘n subtiele grafiese ontwerp waarin die woorde van die Nkosi Sikelel’ iAfrika-gedeelte van Suid-Afrika se volkslied in die vorm van die Suid-Afrikaanse vlag aangebring is. Die woorde verskyn in die vyf tale waarin dié gedeelte van die volkslied geskryf is.
Volgens Nike is die trui met die spelers se behoeftes as uitgangspunt ontwerp en maak dit gebruik van die maatskappy se Nike FIT ADV-tegnologie en spesiaal ontwikkelde liggewig-materiale om bewegingsvryheid en gemak op die veld te verbeter.
Die trui sal uitsluitlik tydens die vier toetse van die Rugby’s Greatest Rivalry Tour gebruik word.
SA Rugby se uitvoerende hoof, Rian Oberholzer, sê die trui is spesiaal vir die toetsreeks ontwikkel.
“Dit is ‘n toer soos min, en dié trui is net so uniek. Nike het ‘n unieke ontwerp ontwikkel wat spesiaal vir dié toetsreeks geskep is,” het Oberholzer gesê.
Die trui sal vanaf 6 Augustus te koop wees by Nike-winkels, op Nike se webwerf, Springbok-winkels in Sandton, Menlyn Park en Canal Walk, asook by uitgesoekte sportwinkels.