Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het ‘n vroeë waarskuwing uitgereik oor ‘n kragtige kouefront en gepaardgaande boonste lugtrog wat Sondag oor die Wes- en Noord-Kaap sal aanland en na verwagting koue, nat en winderige toestande oor groot dele van die land gedurende die langnaweek sal veroorsaak.
Volgens die SAWD sal die kouefront en boonste lugtrog Sondag 9 Augustus oor die Wes- en Noord-Kaap beweeg voordat dit ooswaarts na die Oos-Kaap versprei.
Die weerdiens waarsku dat koue tot baie koue toestande, wydverspreide reën, sterk winde, rowwe seetoestande en sneeu oor bergagtige gebiede van die Wes- en Noord-Kaap verwag word.
Teen Maandag 10 Augustus sal die boonste lugtrog na verwagting verder verdiep namate dit oor die sentrale en oostelike dele van die land beweeg.
Dit kan koue tot baie koue weer, wydverspreide reën en buie, asook sneeu oor berggebiede van die Vrystaat, KwaZulu-Natal en Mpumalanga meebring.
Hoewel ligte sneeu ook in ander hoërliggende gebiede moontlik is, sê die SAWD die grootste waarskynlikheid bly in die bergreekse van dié drie provinsies.
Die weerdiens waarsku dat aanhoudende reën plaaslike oorstromings in laagliggende gebiede, op paaie, brûe en in informele nedersettings kan veroorsaak.
Sterk winde kan volgens die SAWD ook bome laat omwaai, dakke en ander infrastruktuur beskadig, kragonderbrekings veroorsaak en gevaarlike bestuurstoestande skep.
Langs die kus word rowwe seetoestande en hoë golwe verwag, wat maritieme bedrywighede kan ontwrig en kusinfrastruktuur kan bedreig.
Die kouegolf kan ook die risiko van blootstelling aan die koue vir kwesbare gemeenskappe verhoog en bykomende druk op veeboere plaas, terwyl sneeu oor bergpasse tot gevaarlike rytoestande, padsluitings en vervoerontwrigtings kan lei.
Die SAWD doen ‘n beroep op die publiek, motoriste, boere en rampbestuursowerhede om die jongste weerwaarskuwings dop te hou en die nodige voorsorgmaatreëls te tref namate die weerstelsel oor die land beweeg.
Nooddienste en rampbestuurspanne sal na verwagting gedurende die langnaweek op hoë gereedheid wees terwyl die winterstorm oor Suid-Afrika trek.