Deur DwarsDoring
Vandag, 7 Oktober 2026, kry Suid-Afrikaners weer ’n praktiese les in internasionale politiek.
Nie in ’n lesingsaal nie. By die dieselpomp.
Diesel met 0,05% swael styg vandag met R2,84 per liter. Die 0,005%-variant styg met R3,24 per liter. Petrol klim met meer as R3 per liter.
Vir die stedeling beteken dit ’n duurder rit werk toe. Vir die boer beteken dit dat die trekker, stroper, pomp, bakkie en vragmotor skielik almal besluit het hulle verdien ’n salarisverhoging.
Die verskil is net: hulle het nie besluit nie. Politici duisende kilometers daarvandaan het.
En Pretoria het oor drie dekades seker gemaak dat Suid-Afrika besonder kwesbaar is wanneer hulle dit doen.
Washington, Teheran en Jerusalem speel — jy betaal
Kom ons begin met die deel waarvoor die ANC en die RNE nié alleen verantwoordelik is nie.
Brent-ruolie het gedurende die jongste Suid-Afrikaanse berekeningstydperk van gemiddeld US$87,89 tot US$101 per vat gestyg.
Die regering skryf dit self toe aan spanning tussen die VSA en Iran, onsekerheid rondom oliebewegings deur die Straat van Hormuz, hoër skeepskoste en dalende internasionale voorraad.
Die internasionale prentjie is selfs meer ernstig. Die voortslepende konflik waarin die VSA en Israel teen Iran betrokke is, aanvalle op energie-infrastruktuur, bedreigings teen skeepsvaart en ontwrigting rondom Hormuz het die wêreld se energievoorsieningsketting onder geweldige druk geplaas. Die Straat van Hormuz dra in normale omstandighede ongeveer ’n vyfde van die wêreld se oliehandel.
Wanneer daardie wêrelddeel nies, kry ’n boer in Bothaville longontsteking.
Dit is die absurde werklikheid van ’n wêreldekonomie waarin ’n paar regerings militêre en geopolitieke besluite neem en die koste binne dae deur ’n dieselpomp in die Noord-Kaap vloei.
Washington praat van strategiese belange. Teheran praat van soewereiniteit. Jerusalem praat van veiligheid. Oliehandelaars praat van risiko.
En Piet op die plaas praat met sy bankbestuurder. Elkeen het klaarblyklik ’n rol. Net een van hulle moet die mielies plant.
Maar Pretoria kan nie bloot na die Midde-Ooste wys nie
Hier is waar die regering se bekende truuk begin: Internasionale faktore. Olieprys. Oorlog. Rand. Verskeping.
Alles waar. En besonder gerieflik.
Want dit skep die indruk dat Pretoria bloot ’n onskuldige toeskouer is wat ongelukkig elke eerste Woensdag van die maand die slegte nuus aan ons moet deurgee.
Ag tog.
Die probleem is nie dat die ANC-regering oor 32 jaar versuim het om die olieprys in die Persiese Golf te beheer nie. Dit sou belaglik wees om dit te verwag.
Die vraag is waarom Suid-Afrika ná meer as drie dekades van ANC-bewind hierdie internasionale krisis binnegaan met groter afhanklikheid van ingevoerde brandstof, verminderde plaaslike raffineringsvermoë en ’n strategiese petroleumvoorraadbeleid wat in 2026 nog as konsepbeleid gepubliseer word.
Die regering erken self dat verskeie raffinaderye die afgelope jare gesluit het.
Vandag het Suid-Afrika slegs twee werkende ruolieraffinaderye — NATREF en Astron Energy — met Sasol se Secunda-aanleg as ’n belangrike plaaslike brandstofprodusent.
En eers in Julie 2026 keur die Kabinet ’n konsepbeleid goed wat voorstel dat Suid-Afrika strategiese petroleumvoorraad van 60 dae se netto invoere moet hou, met ’n uiteindelike mikpunt van 90 dae.
Pragtig.
Niks sê “langtermyn-energiebeplanning” soos om in die 32ste jaar van ANC-bewind te ontdek dat ’n land wat olie invoer dalk strategiese brandstofvoorraad nodig het nie.
Gelukkig is daar nou ’n beleidsdokument.
Die trekker kan seker daarvan drink.
Die RNE het ook nie meer die luukse van ’n wit bladsy nie
Die RNE kan natuurlik met reg sê dat baie van hierdie probleme geërf is. Korrek.
Maar die RNE bestaan nou al langer as twee jaar. Op ’n sekere punt hou “ons het dit geërf” op om ’n regeringsbeleid te wees.
Die huidige regering hersien nou die Suid-Afrikaanse brandstofprysmeganisme. Goed.
Die proses, wat in April vanjaar bevestig is, sal na verwagting eers teen Maart 2027 afgehandel wees.
Want wanneer boere, vervoerders en huishoudings miljarde aan wisselende brandstofpryse blootgestel word, is daar natuurlik niks wat ’n deeglike elf maande lange oordenking nie kan oplos nie.
Moenie haastig wees nie. Die mielies sal wag.
En Pretoria se hand is wel in jou tenk
Wanneer die regering sê die olieprys word internasionaal bepaal, is dit waar.
Maar die bedrag wat jy uiteindelik betaal, bestaan nie net uit olie nie.
Op diesel beloop die volle brandstofheffing tans R4,16 per liter — bestaande uit die algemene brandstofheffing en koolstofheffing. Daarby kom die Padongelukkefondsheffing van R2,25 per liter.
Dit is saam R6,41 per liter se brandstof- en Padongelukkefondsheffings voordat ’n mens selfs by al die ander komponente van die prysstruktuur uitkom.
Dus, wanneer Pretoria dramaties na Brent wys en sê: “Nie ons skuld nie!”, kan die motoris heel gepas na R6,41 van elke liter wys en antwoord: “Maar daardie deel lyk darem bekend.”
Natuurlik finansier dié heffings werklike staatsfunksies. Paaie kos geld. Die Padongelukkefonds moet gefinansier word.
Openbare finansies verdwyn nie bloot omdat brandstof duur is nie.
Maar dan is dit ook redelik dat die burger vra wat hy vir die geld kry. Veral wanneer hy met daardie diesel oor paaie vol slaggate ry.
Die Padongelukkefonds: ’n besondere stukkie ironie
Elke liter diesel dra tans R2,25 tot die Padongelukkefonds by. Dit is nie ’n klein bedrag nie.
Maar Suid-Afrikaners betaal dit binne ’n staatsomgewing waar die Padongelukkefonds self oor jare met ernstige finansiële, bestuurs- en administratiewe probleme geassosieer is. Dit is amper poëties.
Die staat belas jou brandstof om ’n fonds te finansier wat jou teen die finansiële gevolge van padongelukke moet beskerm, terwyl dieselfde staat se vervallende padinfrastruktuur op talle plekke jou bestuursvernuf daagliks toets.
Jy kan hierdie goed nie uitdink nie.Wel, jy kán. Maar dan sou iemand sê die satire is te oordrewe.
Die boer kry ’n dieselterugbetaling — en dit moet erken word
Hier moet ons billik wees. Kwalifiserende primêre produsente het toegang tot die dieselterugbetalingskema.
En sedert 1 April 2026 is die toelaatbare persentasie vir kwalifiserende landbou-, bosbou- en mynbouaktiwiteite op land van 80% na 100% van geskikte dieselverbruik verhoog. Dit is ’n goeie verbetering.
SARS moderniseer ook die administrasie van die stelsel. Wanneer beleid verbeter, behoort dit gesê te word.
Maar ’n terugbetaling verander nie die feit dat die produsent die diesel aanvanklik moet aankoop, die kontantvloei moet dra, behoorlike rekords moet hou en aan die kwalifikasievereistes moet voldoen nie.
En nie elke liter wat op ’n plaas gebruik word, kwalifiseer outomaties bloot omdat daar ’n trekker binne sigafstand staan nie.
Die skema is dus noodsaaklik. Maar dit maak diesel nie goedkoop nie. Dit maak sekere belastinggedeeltes terugbetaalbaar. Daar is ’n verskil.
’n Krisis, ’n tydelike verligting — en dan die rekening
Vroeër vanjaar, toe die Midde-Ooste-konflik brandstofpryse reeds skerp opstoot, het die regering die algemene brandstofheffing tydelik verminder.
Dit het verbruikers korttermynverligting gegee. Goed so.
Die Tesourie het beraam dat die verligting vir April tot Junie ongeveer R17,2 miljard aan afgestane belastinginkomste sou kos.
Maar die regering het van die begin af gesê dat die maatreël fiscaal neutraal ontwerp is en dat die geld binne die begrotingsraamwerk verhaal sou word.
Met ander woorde: Hier is jou verligting. Hou asseblief die strokie. Ons kom later terug vir die geld.
Teen 1 Julie is die volle heffing weer ingestel.
Suid-Afrika se brandstofbeleid het dus vir ’n paar maande soos ’n vriend gelyk wat jou R100 leen en reeds by die deur vra wanneer jy dit gaan terugbetaal.
Die ANC se groter mislukking is nie die olieprys nie — dit is blootstelling
Dit is hier waar die kritiek behoorlik behoort te land. Geen regering in Pretoria kan Brent beheer nie.
Maar ’n regering kan oor dekades: strategiese voorraad opbou; raffineringskapasiteit beskerm of help skep; mededingende invoerinfrastruktuur ontwikkel; ’n deursigtige brandstofprysformule handhaaf; belasting en heffings verantwoordelik bestuur; logistieke koste beperk; spoorvrag laat werk; paaie instand hou; en ’n energiesektor bou wat nie elke keer paniekerig begin sweet wanneer iemand in die Midde-Ooste ’n missiel lanseer nie.
Suid-Afrika het in baie van hierdie gebiede swak gevaar.
Dit is nie ’n argument dat die staat elke raffinadery self moes besit of elke kommersiële sluiting kon voorkom nie. Dit kon nie.
Maar ná meer as drie dekades van ANC-geleide regering is dit heeltemal billik om te vra: Waarom is ons steeds só kwesbaar? En waarom word die groot strategiese planne telkens bekend gemaak nadat die krisis reeds die voordeur oopgeskop het?
Ons kry ’n energiekrisis. Dan kry ons ’n energieplan.
Ons kry ’n waterkrisis. Dan kry ons ’n waterkrisiskomitee.
Ons kry ’n spoorwegkrisis. Dan ontdek ons private treinoperateurs.
Ons kry ’n brandstofkrisis. Dan ontdek ons strategiese petroleumvoorraad.
Pretoria is baie goed met ambulansbestuur.
Die brandweerafdeling kort net nog aandag.
Wêreldmoondhede is ook nie onskuldige toeskouers nie
Maar laat ons ook nie maak asof al die skuld in die Uniegebou woon nie.
Die wêreld se groot moondhede het ’n merkwaardige vermoë om oor beginsels te praat terwyl gewone mense die ekonomiese gevolge betaal.
Die konflik rondom Iran het energievoorsiening ontwrig, skeepsversekering duurder gemaak en wêreldvoorraad onder druk geplaas.
Die koste van tenkerverskeping uit die Midde-Ooste na Asië het volgens Reuters in sommige gevalle tot meer as US$1,2 miljoen per dag gestyg.
Globale kommersiële olievoorrade is ernstig uitgedun.
Die Amerikaanse Energie-inligtingsadministrasie verwag nou dat Brent in die vierde kwartaal van 2026 gemiddeld ongeveer US$105 per vat kan beloop.
Dieselmarkte is besonder gespanne. Dit is wat geopolitiek op grondvlak beteken.
In Washington word ’n strategiese besluit geneem. In Teheran volg ’n reaksie. In Jerusalem volg nóg een. ’n Tenkversekeraar in Londen verander sy premie. ’n Handelaar pas sy prys aan. ’n Skip verander sy roete.
En uiteindelik betaal ’n Suid-Afrikaanse boer R3 meer vir ’n liter diesel.
Daar is iets merkwaardig aan moderne oorlogvoering:
Die mense wat die minste sê het oor die oorlog, kry dikwels ’n indrukwekkende deel van die rekening.
Die trekker kan nie van die huis af werk nie
En hier kom ons uiteindelik by landbou. Die boer kan nie sy dieselverbruik bloot afskakel omdat olie duur geword het nie. Die grond moet bewerk word. Die gewas moet geplant word. Besproeïng moet werk. Die oes moet ingesamel word. Veevoer moet vervoer word. Produkte moet silo, mark, koelkamer of hawe bereik.
Die trekker kan nie drie dae per week van die huis af werk om brandstof te spaar nie. Die stroper kan nie ’n Teams-vergadering met die mielieland hou nie. En die bees gaan nie self slagpale toe stap omdat die vervoerkoste ongerieflik geraak het nie.
Elke rand wat by diesel gevoeg word, werk dus deur ’n produksieketting. En uiteindelik kom dit by die een plek uit waar politici skielik verbaas begin vra waarom mense kwaad is: Die winkelrak.
Moenie dan vra waarom kos duurder word nie
Diesel beweeg deur feitlik elke deel van Suid-Afrika se voedselketting. Produksie. Oes. Verkoeling. Vervoer. Verwerking. Verspreiding.
Wanneer die dieselprys met meer as R3 per liter styg, is dit ekonomiese wensdenkery om te glo niemand gaan uiteindelik daardie koste dra nie.
Die boer kan ’n deel absorbeer. Die vervoerder kan ’n deel absorbeer. Die handelaar kan ’n deel absorbeer. Maar hulle kan dit nie vir ewig doen nie.
Koste verdamp nie omdat ’n minister ’n persverklaring uitreik nie.
En daarom moet dieselfde regering wat oor voedselinflasie bekommerd raak, onthou dat voedsel nie per regeringskennisgewing van ’n plaas na ’n winkel beweeg nie.
Iemand moet diesel ingooi.
Dit is nie ’n versoek vir gratis brandstof nie
Die oplossing is ook nie dat boere gratis diesel moet kry nie. Dit sou fiskale fantasie wees.
Die oplossing is dat Suid-Afrika ernstig begin vra waarom ’n noodsaaklike produksie-inset só blootgestel is aan internasionale skokke én plaaslike heffings.
Waarom neem die hersiening van die brandstofprysmeganisme tot 2027?
Waarom het strategiese voorraadbeplanning so lank geneem?
Waarom het plaaslike raffineringskapasiteit tot hierdie vlak gekrimp?
Waarom vervoer ons steeds buitensporige hoeveelhede vrag per pad omdat spoorvervoer oor jare verswak het?
Waarom moet ’n landbouprodusent internasionale oliepolitiek, plaaslike belasting, swak logistiek en infrastruktuurprobleme alles in dieselfde liter diesel absorbeer?
Dit is die vrae wat die ANC en nou die RNE moet beantwoord. Nie met nóg ’n strategie nie. Met resultate.
Want uiteindelik betaal die verkeerde mense
Die magtiges sal aanhou vergader. Daar sal vredesonderhandelinge wees. Daar sal sanksies wees. Daar sal strategiese verklarings wees. Daar sal Kabinetsvergaderings wees. Daar sal brandstofpryshersienings wees. Daar sal komitees wees. Daar sal waarskynlik ’n werksgroep wees om toesig te hou oor die komitee wat die hersiening moet bespreek.
Suid-Afrika is immers niks indien nie deeglik in die administrasie van probleme nie. Intussen moet die trekker môreoggend aanskakel. En dit is uiteindelik die groot ironie van die hele saak.
Washington kan oorlog maak. Teheran kan Hormuz dreig. Jerusalem kan sy strategiese doelwitte nastreef. Pretoria kan heffings hef, formules hersien en beleidsdokumente publiseer.
Maar nie een van hulle plant die mielies waarmee Suid-Afrika gevoed word nie.
Grootmoondhede speel skaak. Pretoria hou die kasregister.
En wanneer die stof gaan lê, staan die boer by die pomp met die rekening.