Deur Francois van Deventer (GKSA Deputate Owerheidsake)
Ek het gister die CRL verhore bygewoon. Die meeste mense teenwoordig was hewig gekant teen enige staatsregulering van kerke. En ek moet sê ek is ‘n bietjie geskok as ek bietjie uitzoom en nadink oor alles:
- Die eerste poging in 2015 van die CRL was waar hulle direk na die parlement toe gegaan het en toe gevra het dat die kerk gereguleer moet word. Die parlement het dit in 2017 afgewys en gesê: ‘Nee, die grondwet verbied dit.’
- Die tweede poging is laas jaar (Oktober 2025) afgeskop onder die leiding van Professor Xulu. In Januarie 2026 het Prof Xulu bedank met motivering: “I can no longer serve as chair of a committee the processes of which I do not control, the outcomes of which I do not endorse and the existence of which is being used as a front to disguise a predetermined agenda of State control of religion, driven in part by personal hostility toward particular Christian faith and traditions.” (M&G 2026/01/16)
- Die huidige derde poging is waar die Evangelical Alliance (Dr John Maloma) die CRL Section 22 lei. Hy het die verrigtinge gister geopen deur te verwys na die arme vroue en kinders wat vermoor word en dat “ons” skuld daarvoor dra. Hy het toe vir drie gebede gevra. Daar is toe ‘n uur lange voorlegging gehou waarin Orwelliaanse doublespeak gebruik is om vir staatsregulering te vra via “selfregulering”. Op die skyfies is duidelik gesê dat die uiteindelike doelwit is dat compliance is expected to become legally binding”.
- Dit het vir my gevoel, soos wat ek in die verhore gesit het (dieselfde genoem deur VGK afgevaardigdes gister) dat die CRL mense in die gehoor plant om basies inhoudelik dieselfde toespraak af te lees. Dit kom daarop neer dat hulle eintlik baie meer regulering wil hê as wat selfs nou op die oomblik voorgestel word.
- Die CRL Section 22 wil ‘n “sinode” saamroep van al die denominasies om die uiteindelike selfreguleringsdokument goedgekeur gaan word en die kerke moet hulle dan daarby neerlê. Die gevaar is dat hulle beswaardes teen die regulering dan as rebelle gaan beskou wat randfigure is en nie bestaansreg het nie.
Die Protestante kerke in SA gaan vinnig weer moet terugkeer na hul wortels en protes aanteken.
Hier is my protesskrif wat ek vir die verhoor gister voorgehou het. Die Christene teenwoordig het dit goed ontvang:
Voorlegging aan die CRL-kommissie, Randburg, Johannesburg – 16 September 2026
Geagte Voorsitter, lede van die publiek en mede-Christene,
Ek staan vandag voor u, hoofsaaklik as ‘n Bybelgelowige Christen. Dit beteken dat die hoogste gesag waarvolgens Christene hul lewens inrig, uit God se Woord voortkom.
Daarom bely ons dat die owerheid ‘n dienaar van God is en gehoorsaam moet word vir sover hy regeer in ooreenstemming met God se Woord.
Wanneer die owerheid van Christene verwag om dinge te doen wat in stryd is met God se Woord, sal ons reaksie dieselfde wees as dié van Christene deur die eeue heen:
· Die vroedvroue het geweier om medepligtig te wees aan die moord op babas.
· Die dissipels het geweier om die owerheid se bevel om evangelieverkondiging te staak, te gehoorsaam.
· Die Protestante het voortgegaan om die ware Evangelie in Europa te verkondig, ten spyte van vervolging en die doodstraf.
Die CRL-kommissie se eerste poging tot staatsregulering van godsdiens maak ons baie skepties oor enige selfregulering wat u mag aanbeveel. Dit is baie waarskynlik ‘n Trojaanse perd. Die CRL se voorgestelde wysigings rakende die verpligte registrasie, lisensiëring en regulering van godsdienstige instellings kom neer op ‘n oorskryding van die regerende owerheid se goddelike mandaat.
Hierdie standpunt is gebaseer op die Bybelse beginsel van sfeersowereiniteit. God het aan die burgerlike owerheid die swaardmag verleen om openbare orde te handhaaf en die kwaad (soos deur die Bybel gedefinieer) te straf.
Hy het egter die sleutels van die Koninkryk uitsluitlik aan die Kerk van Christus toevertrou. Dit behels die verkondiging van die Woord, die bediening van die sakramente en die uitoefening van kerklike tug. Die staat het geen jurisdiksie oor die wese en siel van die mens nie, en ook nie oor die interne bestuur van Christus se Kerk nie. Die gesag om toesig oor ‘n gemeente te hou en predikante te beroep, berus uitsluitlik by die kerkraad, onder Christus.
Wanneer die owerheid wette voorskryf om kerklike bediening en leer te reguleer, skend hulle fundamenteel die kerklike vryheid en pleeg hulle ‘n daad van oorskryding teen die Soewereiniteit van God.
Verder: Die argument dat alle beroepe deur die regering gereguleer word en die kerk dus ook gereguleer behoort te word, is nie waar nie. Onder andere word aktuariële wetenskappe nie gereguleer nie.
In die historiese lyn van die Gereformeerde tradisie en die Magdeburgse Belydenis weet ons dat wanneer ’n owerheid mense dwing om teen God se Woord op te tree, dit in tirannie verval.
Die koers wat die CRL-kommissie tans inslaan, lei tot tirannieke optrede – op vlakke 3 en 4 – waar gelowiges gedwing word om tussen die Staat en Christus te kies.
Daarom rig ons ’n dringende oproep aan die owerhede en die CRL-kommissie: laat vaar hierdie koers en bekeer julle.
Onthou dat julle gesag afgelei en beperk is. Ons doen ook ’n beroep op alle laer owerhede en regsliggame om hul grondwetlike plig na te kom om godsdiensvryheid te beskerm.
Waar die owerhede die grense van hul mandaat oorskry, sal die Kerk – in gehoorsaamheid aan Handelinge 5:29 – aan God gehoorsaam wees eerder as aan mense.
Dankie.
Francois van Deventer
Red~ Hierdie berig is in sy peroonlike hoedanigheid geskryf