Nie een van die ses vullisterreine wat vanjaar as deel van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit in die Noord-Kaap geoudit is, voldoen aan die minimum vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur nie.

Die provinsie het vanjaar die swakste van al nege provinsies gevaar en ’n gemiddelde nakomingspunt van slegs 14% behaal. Die Vrystaat was tweede swakste met 19%, terwyl die Wes-Kaap en Gauteng die beste gevaar het met onderskeidelik 66% en 64%.

Volgens AfriForum se jongste Vullisterreinoudit-verslag bevestig die Noord-Kaap se prestasie ’n patroon van ernstige verval. In die afgelope vyf jaar is 87 oudits by 26 verskillende vullisterreine in die provinsie gedoen, maar slegs drie terreine het in dié tydperk daarin geslaag om die oudit te slaag.

AfriForum het vanjaar 132 vullisterreine en oorlaaistasies landswyd geoudit. Slegs 30 hiervan, oftewel 23%, het aan minstens 80% van die oudit se vereistes voldoen.

Dit beteken dat meer as drie uit elke vier terreine landwyd ernstige tekortkominge toon wat infrastruktuur, operasionele bestuur of die nakoming van basiese vereistes betref.

In die Noord-Kaap het geen terrein ’n bevredigende punt behaal nie.

Die resultate was soos volg:

  • Delportshoop-vullisterrein, Dikgatlong Plaaslike Munisipaliteit: 22%
  • Kakamas-vullisterrein, Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit: 2%
  • Keimoes-vullisterrein, Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit: 8%
  • Prieska-vullisterrein, Siyathemba Plaaslike Munisipaliteit: 18%
  • Springbok-vullisterrein, Nama Khoi Plaaslike Munisipaliteit: 0%
  • Upington-vullisterrein, Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit: 32%

Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder in die Noord-Kaap, sê die swak resultate dui volgens hom op ernstige en sistemiese verval in plaaslike regering.

“Die verval is op verskeie vlakke sigbaar, en AfriForum se vullisoudit bevestig dat afvalbestuur ook onder dieselfde juk gebuk gaan as ander dienste in die provinsie,” sê Strauss.

Hy waarsku ook dat die swak bestuur van vullisterreine die Noord-Kaap se skaars natuurlike hulpbronne bedreig.

Volgens hom hou die verspreiding van vullis weens swak terreinbestuur ook direkte gevolge in vir ekonomiese bedrywighede in die provinsie, waaronder landbou, veeboerdery en ekotoerisme.

“Doeltreffende afvalbestuur is ononderhandelbaar en ’n saak wat ’n wydlopende impak op mense en die omgewing het. Daar is nie meer tyd vir verskonings nie – die munisipaliteite se swak prestasie in dié oudit wys reeds dat daar op ’n ramp afgestuur word,” sê Strauss.