Wat bedoel was as ’n romantiese wittebrood-avontuur op Tafelberg, het vir ’n Britse paartjie amper in ’n noodredding uitgeloop toe die bruid aan hitte-uitputting begin ly.
Die twee het Maandagmiddag die Platteklipravyn-roete aangepak — gewapen met liefde, energie en waarskynlik te min water — maar het gou agtergekom dat die Afrika-son nie vir sissies is nie. Namate die dag warmer geword het, het die bruid stokflou neergesak.
Gelukkig was daar ’n “ridder op ’n wit perd” in die vorm van ’n berggids wat dadelik hulp ontbied het. ’n Klein span van Wildernis-soek-en-redding (WSAR) en SANParke het met die kabelspoor tot by die kruin beweeg, waar paramedici die bruid behandel het en die paartjie weer veilig na bo gebring het.
Teen sonsondergang het die twee darem weer hand aan hand na die pragtige uitsig oor Kaapstad gekyk. Die avontuur was dalk nie heeltemal wat hulle beplan het nie, maar dis beslis ’n storie wat nog lank oor ‘n koppie tee (of eerder ‘n bottel water) vertel gaan word.