Suid-Afrikaanse motoriste gaan van Woensdag af aansienlik meer vir brandstof betaal, met petrol wat in Gauteng vir die eerste keer bo R30 per liter gaan kos.
Die groothandelprys van diesel styg met R2,84 per liter vir 0,05%-diesel en met R3,24 per liter vir 0,005%-diesel.
Petrol word ook duurder. Die kleinhandelprys van 93-oktaanpetrol verhoog met R3,12 per liter, terwyl 95-oktaanpetrol met R3,33 per liter styg.
In Gauteng sal 95-oktaanpetrol gevolglik tot R30,25 per liter kos. Die groothandelprys van 0,05%-diesel styg daar tot R31,95 per liter, terwyl 0,005%-diesel R31,08 per liter sal kos.
Paraffien word met R3,58 per liter duurder. Die maksimum prys van vloeibare petroleumgas styg met 42 sent per kilogram, terwyl die verhoging in die Wes-Kaap 48 sent per kilogram beloop.
Die skerp verhogings word hoofsaaklik toegeskryf aan duurder internasionale olie- en brandstofpryse. Brent-ruolie het gedurende die afgelope oorsigtydperk van sowat $87 tot $101 per vat gestyg.
Spanning tussen die VSA en Iran, onsekerheid oor olievoorrade deur die Straat van Hormuz, duurder verskeping en laer internasionale brandstofvoorrade het verdere druk op pryse geplaas.
Hoewel die rand gedurende die oorsigtydperk effens teenoor die dollar versterk het, was die voordeel daarvan te klein om die impak van die hoër internasionale brandstofpryse wesenlik te demp.
Die styging kom te midde van toenemende druk op internasionale dieselvoorrade. Volgens handelsdata is diesel tans ongeveer dubbel so duur as ’n jaar gelede, terwyl Amerikaanse dieselvoorrade op histories lae vlakke is.
Die situasie word verder bemoeilik deur probleme by raffinaderye in verskeie streke. In die Midde-Ooste plaas logistieke knelpunte druk op voorraad en raffineringskapasiteit, terwyl Oekraïense hommeltuigaanvalle ook Russiese raffinaderye ontwrig het. Rusland het terselfdertyd sy beperkings op dieseluitvoer vir nog ’n maand verleng.
Die G7-lande het intussen ingestem om 100 miljoen vate diesel en ruolie uit noodreserwes beskikbaar te stel in ’n poging om die druk op die mark te verlig.