Deur DwarsDoring

’n Skaap word gesteel. Vir die stedeling klink dit dalk eenvoudig: een skaap minder, een boer se verlies, een misdaadsaak by die SAPD.

Maar daardie skaap was dalk ’n ooi wat nog vir jare lammers sou produseer. Die bees wat vanaand deur ’n heining verdwyn, was dalk deel van ’n kudde wat oor geslagte opgebou is. Die bokke wat op ’n vragmotor gelaai en weggery word, is dalk ’n kleinboer se bankrekening, pensioenfonds en noodfonds in een.

Veediefstal is daarom nie bloot die diefstal van vleis op vier pote nie. Dit is die diefstal van kapitaal. En Suid-Afrika verloor verstommend baie daarvan.

Volgens die Departement van Landbou is daar gedurende die 2024/25-boekjaar ongeveer 190 000 stuks vee as gesteel by die SAPD aangemeld. Dit sluit sowat 80 600 skape, 55 700 bokke en 53 600 beeste in. Daar was 25 606 aangemelde klagtes.

Die beraamde direkte verlies aan beeste, skape en bokke alleen was volgens berekeninge waarna die departement verwys het ongeveer R880 miljoen vir die jaar. En dit is net wat aangemeld en bereken kon word.

Die goeie nuus moet ook gesê word

As DwarsDoring die staat wil kritiseer wanneer dinge verkeerd loop, moet hy ook eerlik genoeg wees om erkenning te gee wanneer die syfers verbeter.

Die jongste volledige vierdekwartaaldata wat deur die SAPD bekend gemaak is, wys dat veediefstal tussen Januarie en Maart 2025 van 6 228 sake na 5 671 sake gedaal het. Dit is ’n afname van 8,9% teenoor dieselfde kwartaal ’n jaar tevore.

Die regering het in Mei 2026 ook aangekondig dat eiendomsverwante misdade, waaronder veediefstal, in die vierde kwartaal van 2025/26 saam met 8,5% gedaal het.

Dit is goeie nuus. Dit behoort erken te word.

Maar ’n daling beteken nie dat die probleem verdwyn het nie.

Die destydse waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, het dit self treffend gestel toe hy die jongste misdaadsyfers bekend gemaak het: ’n afname in misdaad is nie dieselfde as veiligheid nie. Presies.

As iemand verlede jaar tien keer by jou ingebreek het en vanjaar net nege keer, is die grafiek op pad in die regte rigting.

Jy slaap nog steeds nie lekker nie.

‘n Skaap is nie net ‘n skaap nie

Die probleem met misdaadstatistiek is dat mense maklik in kolomme verander. 6 000 sake, 25 000 klagtes, 190 000 diere.

Maar op ’n plaas werk ekonomie anders. ’n Produktiewe koei wat gesteel word, verteenwoordig nie net die huidige slagwaarde van daardie dier nie. Die boer verloor moontlike kalwers, genetika, toekomstige kuddegroei en inkomste.

Dieselfde geld vir ’n goeie teelooi. Vir ’n groot kommersiële boerdery is dit ’n ernstige verlies.

Vir die kleinboer met twaalf beeste kan die verlies van vier ’n ramp wees.

Dit is juis waarom die SAPD self reeds in sy misdaadverslae erken het dat vee vir baie hulpbronarm boere nie bloot voedsel is nie, maar ’n vorm van kapitaalreserwe en ekonomiese sekerheid.

Die Departement van Landbou sê boonop dat kenners vermoed dat slegs ongeveer 30% van veediefstalvoorvalle aangemeld word, onder meer omdat sommige slagoffers meen dat rapportering min gaan oplewer.

Daardie 30%-syfer moet versigtig hanteer word: dit is ’n deskundige skatting wat die departement aangehaal het, nie ’n presiese SAPD-telling van alle werklike diefstalle nie.

Maar selfs die moontlikheid behoort ’n mens ongemaklik te maak. Want as dit naastenby korrek is, sien ons in die amptelike statistiek moontlik net die punt van die horing.

Die Boer moet nou ook speurder wees

Die reaksie op veediefstal is dikwels voorspelbaar. Merk jou vee. Maak jou krale veiliger. Hou rekord. Wees waaksaam. Meld verdagte voertuie aan. Werk saam met die polisie. Alles goeie raad.

Maar kyk ’n bietjie wat ons intussen van ’n produsent verwag. Hy moet boer. Hy moet arbeid bestuur. Hy moet droogte bestuur. Hy moet siektes bestuur. Hy moet aan biosekuriteitsvereistes voldoen. Hy moet insetkoste absorbeer. Hy moet heinings herstel. Hy moet markte verstaan. Hy moet belasting betaal.

En wanneer die son sak, moet hy skynbaar ook ’n halftydse misdaadintelligensie-eenheid word. Dit is nogal ’n merkwaardige definisie van ’n “ondersteunende omgewing vir landbou”.

Die misdaad hou nie by die plaashek op nie

Daar is nog ’n deel van hierdie verhaal wat maklik misgekyk word. Gesteelde vee verdamp nie. Iemand vervoer dit. Iemand slag dit. Iemand koop dit. Iemand verkoop die vleis. Iemand verskaf dokumente of kyk doelbewus anderpad.

Veediefstal kan dus nie bloot bekamp word deur die man wat snags deur die draad kruip, te vang nie.

Die mark vir gesteelde vee en vleis moet aangeval word.

Parlement het reeds in 2024 gewaarsku dat die polisie oplossings moet vind vir die mense wat die mark vir gesteelde goedere verskaf.

Dit is die regte vraag. Want ’n gesteelde bees het min waarde vir ’n misdaadsindikaat as niemand bereid is om hom te koop, vervoer, slag of herverkoop nie.

Die staat moet dus nie net die voetspore in die veld volg nie. Hy moet die geld volg.

Dit is reeds ‘n gensprobleem

Die omvang van die probleem word nog duideliker wanneer ’n mens na ons grense kyk.

Suid-Afrika en Botswana het in Mei 2026 ’n gesamentlike aksieplan aanvaar om onder meer bek-en-klouseer en oorgrens-veediefstal te bekamp. Volgens die wetstoepassingsowerhede van die twee lande is veediefstal die grootste misdaadprobleem tussen Suid-Afrika en Botswana. Daar is gevolglik ooreengekom dat ’n gesamentlike oorgrens-taakspan vir veediefstal teen September 2026 gevestig moet word.

Dit is betekenisvol. Ons praat dus nie meer bloot van Piet se drie skape wat oornag uit die kamp verdwyn het nie.

Ons praat van ’n misdaadverskynsel wat plaaslike polisie, georganiseerde landbou, nasionale departemente en buurlande dwing om saam te werk.

En tog werk samewerking

Daar is rede vir hoop. In Mei vanjaar het die SAPD in Tsolo 100 vermoedelik gesteelde skape ter waarde van meer as R180 000 binne ongeveer ’n uur opgespoor.

In September het die polisie in Noordwes drie verdagtes aangekeer en 61 stuks vee, 46 bokke en 15 skape teruggevind.

En in ’n vroeëre operasie in die Oos-Kaap is 208 beeste ter waarde van R2,8 miljoen herwin.

Hierdie suksesse wys wat moontlik is wanneer inligting vinnig gedeel word en gespesialiseerde eenhede, plaaslike gemeenskappe en boere saamwerk.

Dit wys terselfdertyd waarom behoorlik toegeruste veediefstaleenhede nie ’n luukse is nie. ’n Speurder wat nie ’n handelsmerk kan lees, veedokumentasie verstaan, karkasse kan identifiseer of die plaaslike veemark ken nie, begin reeds met een hand agter die rug.

Landboumisdaad verg landboukennis.

Voedselsekerhied begin lank voor die supermark

Suid-Afrikaners praat graag oor voedselsekerheid wanneer pryse styg.

Dan vra ons waarom vleis duurder word. Waarom boere ophou produseer. Waarom kleinboere nie groei nie. Waarom plattelandse werkgeleenthede verdwyn.

Maar voedsel begin nie by die koelkas in die supermark nie. Dit begin by iemand wat bereid is om kapitaal in grond, diere, voer, arbeid en infrastruktuur vas te maak en dan te hoop dat daar oor ’n jaar iets oor is om te verkoop.

Wanneer misdaad daardie kapitaal jaar ná jaar wegdra, verander die boer se berekening. Hoeveel vee hou ek nog aan? Hoeveel belê ek? Hoeveel geld bestee ek aan sekuriteit in plaas van produksie? Wanneer besluit ’n kleinboer dat dit eenvoudig nie meer die moeite werd is nie?

Daardie besluite verskyn nie môre in die misdaadstatistiek nie. Hulle verskyn later in produksiesyfers, werkloosheid en voedselpryse.

 

Die staat hoef nie elke skaap op te pas nie

Niemand verwag ’n polisieman by elke veekraal nie. Boere het ook verantwoordelikhede. Vee moet gemerk word. Dokumentasie moet korrek wees. Gemeenskappe moet inligting deel. Kopers behoort te weet waar hul vee en vleis vandaan kom.

Maar daar is ’n fundamentele grens tussen selfverantwoordelikheid en die uitkontraktering van staatspligte aan die slagoffer.

Die boer kan sy hek sluit. Hy kan sy diere merk. Hy kan ’n kamera opsit. Hy kan ’n plaaswag ondersteun. Hy kan snags patrolleer.

Maar hy kan nie self ’n nasionale misdaadintelligensienetwerk bedryf, grense beveilig, sindikate vervolg en gevangenisstraf oplê nie. Daarvoor betaal hy belasting.

Suid-Afrika se jongste syfers wys dat daar vooruitgang is. Goed so. Laat ons daarop bou.

Maar solank tienduisende veediefstalsake steeds aangemeld word en enorme getalle diere verdwyn, is daar geen rede vir selftevredenheid nie.

Want wanneer ’n dief vanaand ’n skaap oor ’n draad tel, steel hy nie net iets wat môre geslag kan word nie. Hy steel kapitaal. Hy steel toekomstige produksie. Hy steel ’n deel van ’n plattelandse gesin se sekerheid. En uiteindelik steel hy iets van elke Suid-Afrikaner wat môre weer kos op die tafel wil sit.

Die probleem met veediefstal is dus nie dat Suid-Afrika te veel skape verloor nie. Dit is dat ons nog te maklik vergeet hoeveel van ons toekoms saam met hulle deur die hek verdwyn.