~Deur DwarsDoring
Daar is ’n merkwaardige manier om kritiek teen jou regering te beëindig. Los die probleme op. Of, natuurlik, begin praat van hoogverraad.
Daardie tweede opsie verg aansienlik minder administratiewe bekwaamheid.
Die jongste rusie rondom Lex Libertas, Solidariteit, AfriForum en ander organisasies wat in Washington oor Suid-Afrika se probleme praat, behoort daarom veel groter kommer te wek as bloot nóg ’n politieke woordgeveg.
Supra Mahumapelo, voorsitter van die Parlement se Portefeuljekomitee oor Internasionale Betrekkinge, het vroeër in Oktober hierdie organisasies uitgesonder en aangevoer dat hul buitelandse optrede ondersoek moet word. Hy het selfs gesuggereer dat sekere betrokkenheid in Washington moontlik as hoogverraad beskou kan word. Minister Ronald Lamola het die breër oproep gesteun dat daar opgetree moet word teen mense wat volgens die regering waninligting oor Suid-Afrika internasionaal versprei.
Dit is ernstige taal.
Veral wanneer die SAPD se eie omskrywing van hoogverraad praat van optrede met die bedoeling om die regering omver te werp, dit met geweld te dwing, die staat se onafhanklikheid of veiligheid te bedreig, of die grondwetlike bestel onwettig te verander.
Om in Washington te sê dat jou regering swak beleid volg, is dus nie sommer dieselfde ding as om ’n staatsgreep te beplan nie.
Mens sou hoop daardie onderskeid is redelik vanselfsprekend.
Maar wat as die kritiek verkeerd is?
Dan antwoord jy dit. Met feite.
As Lex Libertas iets vals sê, wys presies wat vals is.
As AfriForum ’n statistiek verdraai, publiseer die korrekte statistiek.
As Solidariteit ’n onregverdige gevolgtrekking maak, vernietig die argument met beter getuienis.
Dít is hoe ’n selfversekerde regering behoort op te tree.
Die Grondwet beskerm immers uitdruklik die reg om inligting en idees te ontvang én oor te dra. Die uitsonderings is onder meer oorlogspropaganda, aanhitsing tot dreigende geweld en sekere haatspraak.
Die Grondwet sê nie: “Vryheid van uitdrukking geld, mits jou regering gemaklik is met die gehoor waarmee jy praat” nie.
Pretoria is nie Suid-Afrika nie
Hier lê dalk die belangrikste fout in die hele debat. ’n Regering is nie die land nie. ’n Kabinet is nie die volk nie.
En kritiek teen die ANC of die RNE is nie outomaties kritiek teen Suid-Afrika nie. Dit behoort in ’n demokrasie moontlik te wees om te sê: “Ek glo my regering benadeel my gemeenskap, en ek gaan internasionaal daaroor praat.”
’n Mens kan hewig verskil met dié strategie. Jy kan meen dit benadeel handelsbetrekkinge. Jy kan meen buitelandse regerings moet uit ons huishoudelike probleme bly. Daardie debat is heeltemal geldig.
Maar wanneer die antwoord begin skuif van “jy is verkeerd” na “dalk is jy ’n verraaier”, verander die aard van die gesprek.
En toe kom die terugtrap
Op 19 Oktober het Mahumapelo sy standpunt verduidelik. Hy sê niemand is aangekla nie, geen wetsontwerp is ingedien nie, en die komitee beoog nie dat burgerskap bloot weens ’n ander politieke mening weggeneem moet word nie. Hy voer aan dat Parlement wel moet ondersoek of bestaande wetgewing voldoende is wanneer mense buitelandse regerings probeer oorreed om Suid-Afrika met visumbeperkings, handelsmaatreëls of ander strafmaatreëls te tref.Dit is ’n belangrike kwalifikasie.
Maar dit laat steeds die oorspronklike vraag staan: Waarom was daar in die eerste plek praatjies oor hoogverraad en burgerskap?
Veral nadat die Konstitusionele Hof nog in 2025 beklemtoon het hoe fundamenteel burgerskap is. Artikel 20 van die Grondwet is opvallend kort: “No citizen may be deprived of citizenship.” Mens speel nie ligtelik met daardie begrip nie.
Miskien lê die probleem elders
Lex Libertas se internasionale veldtog is nie ’n geheim nie. Die organisasie sê openlik dat hy Amerikaanse politici, amptenare, media en ideesentrums probeer oortuig dat Suid-Afrika strukturele hervorming nodig het. Mens hoef nie met elke eis, statistiek of oplossing saam te stem nie.
Maar die ongemaklike vraag vir die regering is: Waarom vind hierdie boodskap enigsins ’n gehoor?
As munisipaliteite uitstekend funksioneer, wys dit. As eiendomsreg absoluut veilig is, bewys dit. As minderhede geen rede tot kommer het nie, stel die feite beskikbaar. As plaasveiligheid voldoende is, publiseer die resultate.
Wanneer die boodskapper jou irriteer, is dit aanloklik om die boodskapper die probleem te maak. Dit is net gewoonlik goedkoper as om die probleem op te los.
Vryheid word juis getoets deur ongemaklike spraak.
Vryheid van spraak bestaan nie hoofsaaklik om aangename dinge te beskerm nie.
Niemand het ’n Handves van Regte nodig om die regering te komplimenteer nie. Die toets kom wanneer iemand iets sê wat die maghebbers woedend maak.
Daarom behoort elke Suid-Afrikaner, ook iemand wat Lex Libertas heeltemal verkeerd vind, versigtig te wees wanneer staatsmag en politieke kritiek te naby aan mekaar beweeg.
Vandag is dit Ernst Roets. Môre is dit dalk ’n joernalis. ’n Kerk. ’n Vakbond. ’n Boer. Of bloot iemand met ’n mikrofoon en ’n ongerieflike vraag.
’n Regering wat glo sy kritici lieg, het ’n eenvoudige middel: Bewys hulle verkeerd.
Want wanneer ’n regering eerder begin vra hoe hy sy kritici kan beperk as waarom hulle kritiek gehoor word, behoort die burger ’n ander vraag te begin vra:
Wie is hier eintlik bang vir die waarheid?