Die polisie in Limpopo soek na vier verdagtes wat hulle glo as polisiebeamptes voorgedoen het voordat hulle ’n boer en sy werknemers tydens ’n gewelddadige plaasroof in die Morebeng-polisiegebied oorval het. Die boer is na bewering met ’n pik en sambok aangerand en sy vingers is met ’n kniptang gesny om hom te dwing om die sleutel van sy kluis te oorhandig.
Volgens kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, het die vier mans Donderdagmiddag omstreeks 13:00 by die plaas in die Capricorn-distrik opgedaag.
Die verdagtes was volgens die polisie in polisie-uniforms en weerkaatsende baadjies geklee en het hul gesigte bedek.
Hulle het ’n werknemer genader en gevra waar sy werkgewer is. Die werknemer het agterdogtig geraak en probeer vlug, maar een van die mans het hom na bewering met ’n vuurwapen gedreig. Hy is daarna vasgebind.
Boer ure later oorval
Die verdagtes het volgens die polisie ongeveer drie uur lank op die plaas gebly voordat die eienaar saam met twee werknemers opgedaag het.
Die groep is met vuurwapens gekonfronteer en die aanvallers het toegang tot ’n kluis geëis. Toe die boer aanvanklik gesê het dat hy nie ’n kluis het nie, is hy aangerand.
Die aanvallers het hom volgens die polisie met ’n pik en sambok geslaan en daarna sy vingers met ’n kniptang gesny in ’n poging om hom te dwing om te sê waar die sleutel van die kluis was.
Die rowers het uiteindelik die kluis oopgebreek.
Hulle het na bewering gewere, ’n pistool, ammunisie en ’n onbekende bedrag kontant gesteel. ’n Bankkaart en vier selfone is ook gebuit.
Die slagoffers is vasgebind voordat die verdagtes die sleutels van ’n voertuig geëis het. Volgens die polisie is een skoot tydens die voorval afgevuur.
Verdagtes vlug in wit Hilux
Die vier verdagtes het daarna na bewering in ’n wit 1999-model Toyota Hilux-dubbelkajuit, met registrasienommer BHY 893 L, van die plaas gevlug.
Niemand is nog in verband met die aanval in hegtenis geneem nie en die verdagtes is steeds ongeïdentifiseer.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat kan help om die verdagtes op te spoor of die gesteelde voertuig en vuurwapens terug te vind, om sers. Moraka Machaka by 072 276 5728 of die naaste polisiestasie te kontak.