Die regering wil die algemene brandstofheffing uiteindelik geleidelik afskaf, maar moet eers besluit hoe om die sowat R80 miljard aan inkomste wat dit inbring, te vervang. Enoch Godongwana, minister van finansies, het dié moontlikheid in ’n radio-onderhoud bespreek. Hy het geen tydlyn vir die moontlike afskaffing gegee nie.
Godongwana het ook gesê die regering moet heroorweeg hoe die Padongelukfonds (RAF) befonds word. Die RAF-heffing dra tans R2,25 per liter by tot die prys van petrol en diesel. Die algemene brandstofheffing beloop R4,10 per liter vir petrol en R3,93 vir diesel.
Intussen geld daar tydelike verligting aan die brandstofheffings. Van 4 November tot 1 Desember 2026 word die algemene heffing met R1,50 per liter vir petrol en R3 per liter vir diesel verlaag. Van 2 Desember tot 5 Januarie 2027 daal die vermindering tot onderskeidelik R1 en R1,50 per liter.
Godongwana het in sy mediumtermynbegrotingsrede gesê die tydelike maatreëls sal R10 miljard se ondersteuning bied, teen ’n koste van R10 miljard aan misgelope inkomste. Die regering beplan om die R10 miljard wat aan die Sentrale Energiefonds oorgedra is, na die Nasionale Inkomstefonds terug te stuur en in die gebeurlikheidsreserwe te plaas.