Die jaarlikse Bokkietoernooi vir naskoolse jongmense het die afgelope naweek vir die negende keer vanaf 3 tot 6 April  te Orania plaasgevind. Ná versoeke van oudspelers is die ouderdom van die toernooi in 2026 verhoog vanaf O/23 na O/25. Dit is verblydend dat daar steeds meer en meer van ons ouer jongmense by Bokkieweek betrokke wil bly.
 
Daar was spel op Saterdag 4 April en Maandag 6 April. Op Goeie Vrydag toe die spelers by die toernooi aangekom het, het ds. Ronald Bain tydens die opening met ‘n treffende oordenking voorgegaan om ook die waardes van Goeie Vrydag in stand te hou.
 
Die toernooi is vanjaar vir die eerste keer nie op Orania se sportgronde aangebied nie maar by Orania CVO skool. Die skool het besondere nuwe sportgeriewe daargestel en die spelers was bevoorreg om aan die eerste toernooi op die velde deel te neem.
 
Die spel by 7’s Rugby en Netbal was van besondere hoë gehalte en het die spanne mekaar werklik getoets. Uiteindelik is Noord-Transvaal Noord as Rugby se wenners bekroon en Noord-Vrystaat as Netbal se wenners. By Woemahokkie, wat nog in ontwikkelingsfase by Bokkietoernooi is, het die span van Griekwas koning gekraai.
 
Daar was 22 sportspanne by die toernooi teenwoordig.
 
Die spelers het ook met groot entoesiasme deelgeneem aan die Cantus wat op Saterdagaand gehou was. Met 400 deelnemers aan die Cantus was dit ‘n besonderse geleentheid gewees. Dit maak dit die grootste Cantus in Suid-Afrika. Net voor Cantus is ook die mej. Sprankelbokkie kompetisie aangebied waar die wenner Megan von Lieres van Noord-Vrystaat Kavaliers was.
 
Tydens die prysuitdeling is daar ook ‘n beste Rugbyspeler, Netbalspeelster en Woemahokkiespeelster aangewys, wat elkeen ‘n kontantbedrag ontvang het vir hul uitnemende spel.