Orania het gisteraand nie net die bekendstelling van die nuwe I-reeks Ora-koeponne gevier nie, maar ook rekordbedrae tydens ’n spesiale veiling gesien.
Die veiling, wat deel van die bekendstellingsgeleentheid was, het groot belangstelling gelok, met versamelaars en ondersteuners wat bereid was om diep in die sak te grawe vir unieke items.
Van die hoogste bodbedrae sluit in die E-reeks gedenkstel wat R43 000 behaal het, terwyl ’n goue Orania-munt vir ’n indrukwekkende R102 200 verkoop is. Nog groter belangstelling is gewek deur ’n volledige eksemplaar van die nuwe I-reeks met alle advertensies, wat R131 250 behaal het.
Een van die aand se hoogtepunte was die nommer een goue Orania-munt, wat teen R130 500 onder die hamer gegaan het.
Altesaam het die veiling ’n bedrag van R631 960 opgelewer—’n duidelike teken van die sterk steun vir die Ora en die simboliese waarde wat dit vir die Orania-gemeenskap inhou.
Die groot bedrae weerspieël nie net versamelaarswaarde nie, maar ook die trots en betrokkenheid van Oraniërs by hul eie ekonomiese en kulturele inisiatiewe.