“Bly net oorleef.” Dit is wat Hannes Brits (43) homself bly voorsê het terwyl aanvallers hom meer as drie uur lank in ’n plaashuis in die Donkerhoek-omgewing aangerand, vasgebind en herhaaldelik gedreig het. Twee weke later was die tekens van die aanval steeds aan sy liggaam sigbaar.
Drie mans is kort ná die aanval deur lede van Echo-1 Tactical Solutions vasgetrek. Hulle is Amos Respect Mashaba (52), Rofino Jorge Novela (35), ’n Mosambieker, en Siyabulela Khulu (35).
Hulle word aangekla van roof met verswarende omstandighede en ontvoering omdat Brits vasgebind en van sy bewegingsvryheid ontneem is.
’n Vierde persoon, wat met Brits se bakkie weg is, word nog gesoek.
Die saak is vir ’n moontlike borgtogaansoek uitgestel.
Brits, ’n meganiese ingenieur wat ’n huis op die plaas huur, het die Vrydagaand van die langnaweek omstreeks 23:00 gaan slaap. Die huis was gesluit, asook die veiligheidshek in die gang.
Hy het niks verdags gehoor voordat hy wakker geword het toe hy hard in die gesig geslaan is nie. Brits vermoed hy is met die stomp kant van ’n byl geslaan.
Sy mond is ernstig beseer en hy kon voel hoe sy tande breek.
Die aanvallers het daarna sy hande en voete met ’n sterk goingtou agter sy rug vasgebind. Brits sê hy kon voel hoe die bloedtoevoer na sy hande afgesny word.
Die mans het daarna die huis deursoek, besittings uit sy kas gehaal en van die goed in sy rugsak gepak. Huishoudelike items, waaronder sy yskas en televisie, is ook uitgedra.
Tussendeur het die aanvallers na Brits teruggekeer, hom verder aangerand en gedreig om hom met ’n strykyster te brand.
“Bly net oorleef. Bly net oorleef,” het Brits homself bly voorsê.
Op ’n stadium het alles stil geword en Brits het gedink die aanvallers het vertrek. Hy het probeer om homself los te wikkel en sê dit het gevoel asof hy sy skouer uit sy potjie skeur.
Maar die stilte was telkens van korte duur.
“Elke keer storm die aanvallers my kamer in, rand my aan en dreig met die strykyster. En nes ek dink nou is hulle wraggies weg, dan kom hulle terug,” het Brits vertel.
Volgens hom het die aanvallers telkens die verkeerde ligskakelaars probeer aanskakel sonder om te besef dat die huis se krag af was.
Op ’n stadium het Brits sy eie bakkie se alarm hoor afgaan. Twee van die aanvallers het die gang afgehaas en het vermoedelik gedink hulle het self iets geaktiveer.
Kort daarna het hulle na Brits teruggekeer en wou hulle hom weer slaan.
Met sy mond ernstig beseer en sy onderlip pap hangend, kon Brits skaars praat. Hy het probeer om vir hulle te sê dat die geluid van sy bakkie kom, maar kon nie die letter “b” behoorlik uitspreek nie.
Brits het toe sy mond teen die kussing gedruk om die woorde “bakkie keys” te probeer uitkry. Intussen het een van die aanvallers hom volgens Brits weer probeer slaan.
Die alarm is daarna afgeskakel.
Brits het later gehoor hoe sy bakkie en ’n ander voertuig wegry. Eers toe het hy weer om hulp begin skree.
Echo-1 het intussen inligting ontvang oor ’n beplande aanval vir daardie Vrydagaand.
Volgens Alto Hoffman is die plaasgebied groot en dig bebos, en was die enigste praktiese opsie om in die omgewing rond te ry en na enigiets verdags te soek.
Kort ná 03:00 Saterdagoggend het hulle ’n bakkie gewaar wat vermoedelik met gesteelde goedere gelaai was. Drie insittendes is voorgekeer en na die Cullinan-polisiestasie geneem.
Onder die items wat gevind is, was ’n selfoon. Die noodkontaknommer op die toestel is gebel en dit was Brits se broer.
Hy kon aanwysings en bakens verskaf, waarna die veiligheidslede die plaas begin soek het.
Omstreeks 06:00 het hulle die plaashuis opgespoor en iemand van binne hoor skree.
Die diefwering voor ’n sitkamervenster was beskadig en die veiligheidshek in die gang was oopgebreek.
“Ons het Hannes op die bed gevind,” het Hoffman gesê.
Brits was steeds vasgebind en bloed het tot by sy voetsole afgeloop. Hoffman het die beheerkamer gekontak en die polisie en mediese hulp ontbied. Daarna moes Hoffman versigtig te werk gaan om die tou, wat diep in Brits se liggaam ingesny het, los te kry
Die polisie en mediese hulp is ontbied. ’n Buurtwag het ook opgedaag en noodhulp toegepas, waarna Brits se broer hom na ’n hospitaal geneem het.
Die gevolge van die aanval was twee weke later steeds aan Brits se liggaam sigbaar.
Die bloedige swelling om sy oog het tot blou kringe afgeneem. Die merke waar die tou om sy gewrigte en enkels vasgetrek was, was steeds sigbaar.
’n Wond naby sy sleutelbeen, waar hy met iets gesteek is, is toegewerk. Brits het ook ’n wond aan sy arm opgedoen wat hy vermoed deur iets soos ’n skroewedraaier veroorsaak is.
Hy moes plastiese chirurgie ondergaan nadat sy gesig op vyf plekke gekraak en gebreek is. ’n Stukkie neusbeen het volgens hom in sy oogholte gesteek en twee van sy vingers bly krom weens senuweeskade.
“Die wonde genees. Die eerste paar dae was die ergste,” het Brits gesê.
Hy sê hy is dankbaar dat hy die aanval oorleef het en spreek veral sy dankbaarheid teenoor Echo-1 en sy broer uit. Hy is ook dankbaar dat die aanvallers verkeerdelik gedink het die krag was af.