AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, het Donderdag met oudpresident Jacob Zuma in Durban vergader om verskeie kwessies van nasionale belang te bespreek, met spesifieke fokus op die toekoms van selfbeskikking in Suid-Afrika.
Die ontmoeting volg te midde van groeiende kommer oor die MK-party se voorneme om artikel 235 van die Grondwet, wat selfbeskikking erken, te wysig of te verwyder. Dié stap het reeds sterk reaksie uitgelok, met organisasies soos AfriForum wat meen dit hou ernstige implikasies vir kultuurgemeenskappe in.
AfriForum het vroeër ’n beroep op verskeie gemeenskappe gedoen om saam te staan teen enige poging om artikel 235 te skrap, aangesien dit ’n belangrike grondslag vir selfbeskikking vorm. Die organisasie het ook amptelik kommentaar ingedien teen die voorgestelde wysigings.
Kriel het ná die gesprek gesê die vergadering met Zuma was konstruktief en dat daar openlik oor verskeie onderwerpe gesels is. Benewens die debat oor selfbeskikking, is sake soos moedertaalonderrig, wedersydse respek tussen kulture en landbou-ontwikkeling in tradisionele gebiede ook aangeraak.
Hy het beklemtoon dat AfriForum homself as ’n burgerlike organisasie beskou wat buite party-politiek funksioneer, en dat die organisasie bereid is om met uiteenlopende rolspelers te skakel in die belang van toekomstige geslagte.
Volgens Kriel is die doel om volhoubare oplossings te soek wat ’n beter toekoms kan verseker, selfs al bestaan daar verskille tussen partye. Verdere gesprekke tussen die partye word in die vooruitsig gestel.