Inskrywings vir die tweede FAK-Skryf’it-liedjieskryfkompetisie open op 16 Maart, met pryse ter waarde van R100 000, insluitend R25 000 kontant.
Volgens Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte, is die kompetisie daarop gemik om nuwe Afrikaanse liedjies te ontdek en terselfdertyd gesprekke oor tegnologie se rol in musiek aan te moedig.
Vanjaar se kompetisie bevat twee afdelings: ’n tradisionele liedjieskryfafdeling, waar alles deur mense geskep moet word, en ’n KI-verwerkte afdeling, waar tegnologie as hulpmiddel in die produksie gebruik kan word. In albei gevalle moet die lirieke 100% deur ’n mens geskryf wees.
Bekende Afrikaanse kunstenaars soos Danie “Reënwolf” du Toit, Ampie, Andriëtte Norman, William Wolf en John-Henry Opperman sal as mentors optree, terwyl ’n sterk beoordelaarspaneel onder meer Steve Hofmeyr, Gian Groen, Pieter Smith en Machiel Roets insluit.
Volgens Müller bly die kern van die kompetisie om nuwe Afrikaanse liedjies en talent te ontdek, terwyl tegnologie verantwoordelik as hulpmiddel verken word.
Meer inligting en inskrywings is beskikbaar by skryf-it.co.za.