Die Keniaanse mierkenner, Dino Martins, praat met groot bewondering oor die rooi-en-swart reuse oesmiere wat onlangs die middelpunt van ’n internasionale smokkelhandel geword het.
Martins bestudeer al vier dekades lank die neste van dié reuse Afrika-oesmiere naby Nairobi.
“Hierdie miere is groot, dapper en indrukwekkend. Hulle is die tiere van die mierwêreld,” het die entomoloog gesê.
Hy verduidelik dat elke nes slegs een koningin het wat die kolonie gestig het en soms al 40, 50 of selfs 60 jaar oud kan wees.
Martins was geskok toe hy uitvind dat duisende koninginne van die spesie Messor cephalotes uit hul natuurlike habitat verwyder en in spuite en proefbuise na ander lande gesmokkel word, waar hulle vir honderde dollars elk verkoop word.
Die onwettige handel het verlede jaar groot aandag getrek toe twee Belgiese tieners in Kenia in hegtenis geneem is met byna 5 000 mierkoninginne in hul besit. Hulle is van onwettige smokkel van inheemse spesies beskuldig.
Keniaanse owerhede waarsku dat hulle toenemend ’n nuwe vorm van stropery sien. Waar ivoor, diervelle en horings voorheen die hoofteikens was, word insekte, reptiele en skaars plante nou al hoe meer geteiken.
’n Regter wat oor die saak uitspraak gelewer het, het die praktyk selfs met die slawehandel vergelyk.
“Stel jou voor jy word met geweld uit jou huis verwyder en saam met duisende ander in ’n houer ingedwing. Dit klink amper soos die slawehandel,” het die regter gesê.
Die twee Belge is met sowat $8 000 beboet. Sedertdien het howe egter strenger begin optree. ’n Chinese burger is onlangs tot een jaar tronkstraf gevonnis nadat hy probeer het om 2 000 miere uit die land te smokkel.
Op verskeie Europese webwerwe word mierkoninginne vir sowat 200 euro (ongeveer R4 000) elk aangebied.
’n 25-jarige Fransman, Ryan, sê die miere het hom nog altyd gefassineer. Hy het uiteindelik ’n beginpakket gekoop wat ’n koningin en 12 werkersmiere ingesluit het.
Volgens hom was die prys van 450 euro redelik, veral aangesien ’n koningin ’n dekade gelede tot 1 000 euro kon kos.
Ryan het egter later besef dat die miere moeilik is om aan te hou en het hulle uiteindelik weggegee.
Reuse oesmiere kom wyd voor, van die Middellandse See tot in Suider-Afrika. Hulle werk byna 24 uur per dag saam om gras te versamel en op te kap vir hul larwes.
Die insekte het mense al eeue lank geboei. Selfs koning Salomo verwys in die Ou Testament na die mier as ’n voorbeeld van ywer en wysheid.
“Hy het waarskynlik na dieselfde soort mier gekyk wat ons vandag nog bestudeer,” sê Martins.
Kolonies neem tussen 20 en 30 jaar om nuwe koninginne voort te bring. Hulle speel ook ’n belangrike rol in die natuur deur grassade te versprei, die grond te belug en as voedsel vir diere soos pangoliene te dien.
Martins meen die smokkel van miere is nie net onwettig nie, maar ook oneties.
“Miere het ook gevoelens,” sê hy.
Volgens die Switserse navorser Jerome Gippet het die handel in miere dramaties toegeneem sedert die opkoms van die internet.
Wat eens ’n stokperdjie van ’n klein groepie entoesiaste was, het ontwikkel in ’n internasionale netwerk van versamelaars, tussengangers en smokkelaars.
’n Studie wat Gippet in 2017 gepubliseer het, het bevind dat meer as 500 mierspesies wêreldwyd aanlyn verkoop word. Dit verteenwoordig sowat ’n derde van alle bekende mierspesies.
Meer as 10% van dié spesies kan moontlik indringerorganismes word indien hulle in nuwe omgewings vrygelaat word.
Gippet glo egter dat streng gereguleerde handel, soos wat in Australië bestaan, wel moontlik is.
“Ek pleit nie vir ’n verbod op die handel in miere nie. Dit het opvoedkundige waarde, help mense om nader aan die natuur te kom en bring baie mense vreugde. Maar dit moet verantwoordelik bestuur word,” het hy gesê.