Kinderbeskermingsweek word van 29 Mei tot 5 Junie in Suid-Afrika gevier onder die tema “Saamwerk om geweld teen kinders te beëindig”, maar Solidariteit Helpende Hand waarsku dat die beskerming van kinders veel vroeër begin as wanneer ’n maatskaplike werker of die regstelsel betrokke raak.
Volgens Suzette Oosthuizen, hoof van sentrums en nasionale strukture by Solidariteit Helpende Hand, bevind Suid-Afrika hom in die middel van ’n ernstige kinderbeskermingskrisis.
“Die werklikheid is dat Suid-Afrika met ’n ernstige kinderbeskermingskrisis sit,” sê Suzette Oosthuizen, hoof van sentrums en nasionale strukture by Solidariteit Helpende Hand.
Sy meen kinderbeskerming behoort nie beperk te word tot formele ingrypings nadat skade reeds aangerig is nie.
“Wanneer ons oor kinderbeskerming praat, moet ons verder kyk as die hofsaal of die maatskaplike werker se kantoor. Die werklike werk begin lank voordat ’n krisis daar uitkom. Dit begin in huise, skole, kerke en gemeenskappe waar volwassenes bereid is om raak te sien wanneer ’n kind swaarkry.”
Die omvang van die probleem word weerspieël in syfers wat deur UNICEF aangehaal word. Volgens misdaadstatistieke van die SAPD is 285 kinders tussen Oktober en Desember 2023 vermoor, terwyl 2 707 kinders voorvalle van poging tot moord, aanranding of ernstige liggaamlike leed oorleef het.
UNICEF waarsku egter dat hierdie syfers slegs aangemelde gevalle verteenwoordig en dat die werklike omvang van geweld teen kinders waarskynlik veel groter is. Statistieke van Stats SA toon ook dat kinders 43,1% van die land se arm bevolking uitmaak.
“Agter elke statistiek is daar ’n kind met ’n naam, ’n storie en ’n toekoms,” sê Oosthuizen. “Wanneer ons van geweld, armoede of trauma praat, praat ons van kinders wat elke dag probeer funksioneer terwyl hulle onseker, bang of honger is.”
Sy sê kinders se nood word nie altyd op dieselfde manier sigbaar nie.
“Die kind wat stil raak in die klas, die tiener wat aggressief optree of die kleuter wat honger by die skool aankom, vertel dikwels ’n verhaal wat verder strek as wat ons met die eerste oogopslag sien. Die vraag wat baie van hierdie kinders eintlik vra, is eenvoudig: ‘Is ek veilig?’”
Volgens Oosthuizen speel betrokkenheid van volwassenes ’n deurslaggewende rol in die beskerming van kinders.
“Die grootste beskerming wat ’n kind kan hê, is iemand wat luister, tyd maak en vir daardie kind wys dat hy of sy waarde het. Kinderbeskerming kan nie net die verantwoordelikheid van die staat wees nie. Gemeenskappe moet saam verantwoordelikheid aanvaar vir hul kinders.”
Helpende Hand bied deur sy Ons Plek-netwerk verskeie dienste aan kinders regoor die land. Dit sluit onder meer kleuterskole, naskoolsentrums, huiswerkhulp, voedsame maaltye, vervoer en vakansieprogramme in. Kinders het ook toegang tot terapeutiese ondersteuning deur die organisasie se Ons Sentrum-programme.
Hierdie programme fokus veral op kinders wat trauma ervaar het en sluit spelgebaseerde assesserings, emosionele ondersteuning en traumaverwerking in.
“Kinderbeskerming gaan nie net daaroor om kinders uit gevaar te red nie,” sê Oosthuizen. “Dit gaan ook daaroor om ruimtes te skep waar hulle kan groei, leer en genees. Kinders wat emosionele ondersteuning ontvang, voldoende voeding kry en toegang het tot gehalte-vroeëontwikkeling, het ’n beter kans om akademies, emosioneel en sosiaal te floreer.”
Sy glo dat die welstand van kinders direk verband hou met die toekoms van gemeenskappe en die land as geheel.
“’n Samelewing wat sy kinders beskerm, beskerm uiteindelik sy eie toekoms. Sterk gemeenskappe word gebou wanneer gewone mense verantwoordelikheid neem vir die volgende geslag.”