KAAPSTAD – Die Stad Kaapstad beplan om die onvoltooide snelwegbrûe, wat al dekades lank onafgehandel staan, te voltooi in ‘n poging om verkeersdruk in en om die middestad te verlig.
Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, sê die stad maak goeie vordering met die beplanning van die projek en beoog om die eerste konsepontwerpe in September vir openbare kommentaar beskikbaar te stel.
“Die onvoltooide brûe waarmee ons as Kapenaars grootgeword het, wil ons in die komende jare voltooi. Teen ongeveer September sal ons aanvanklike ontwerpe vir openbare kommentaar vrystel,” het Hill-Lewis gesê.
Die twee onvoltooide Vooroewer-snelwegbrûe in die Kaapse middestad staan reeds byna 50 jaar onafgehandel.
Die voorsitter van die Township Development Council, Ndodana Hadebe, het egter die stad se planne bevraagteken en aangevoer dat die stad sy finansiële hulpbronne eerder aan basiese dienslewering behoort te bestee.
Volgens Hadebe staar baie gemeenskappe steeds ernstige uitdagings in die gesig, waaronder werkloosheid, ‘n tekort aan behuising, veiligheidsprobleme en onvoldoende basiese dienste.
Hill-Lewis het gesê die stad verwag dat die projek hoofsaaklik deur die private sektor befonds sal word, eerder as deur munisipale fondse.