Die hof het die minister van landbou tot orde geroep oor die hantering van die voortslepende bek-en-klouseerkrisis.
Dit volg op ’n dringende aansoek deur Saai, Sakeliga en Vrystaat Landbou teen die minister, die direkteur-generaal en die direkteur van dieregesondheid oor die beheer van entstof.
Die hofbevel, saam met ’n kostebevel teen die staat, beklemtoon volgens die aansoekers hoe ver die staatsdiens se benadering van die werklikheid op plase verwyder is.
Terwyl veeboere toenemend finansieel knak, het die minister eers ná drie maande ’n konsep-inentingskema as oplossing voor die hof gebring – en dit slegs minute voor die verhoor.
Volgens die aansoekers is dié skema boonop reeds deur die departement self verwerp.
Die huidige uitbreking, wat reeds sedert 2022/2023 ’n ernstige bedreiging inhou, het volgens rolspelers reeds groot skade aangerig. Honderde melkerye, stoettelers en kommersiële asook kleinskaalse boere sit met verliese waarvan baie nie sal herstel nie.
Die hof het nou streng sperdatums aan die minister gestel. Indien ’n inentingskema ingestel wil word, moet dit voor 17 April 2026 geskied.
Die bevel maak ook voorsiening dat boere en ander belanghebbendes insette kan lewer – veral dié wat voorheen uitgesluit is.
Tydens die hofverrigtinge het dit verder na vore gekom dat die minister nie duidelik kon aandui op watter regsgrond hy aandring dat die staat volle beheer oor die inentingsveldtog moet hê nie.
Volgens die aansoekers bestaan sodanige regsgrond nie, en is die benadering eerder ideologies van aard – geskoei op sentrale staatsbeheer eerder as samewerking met die private sektor.
Daar word ook kommer uitgespreek dat staatsinmenging koste kan opstoot en moontlik ruimte skep vir onbehoorlike voordeel deur sekere rolspelers, ten koste van boere.
Saai sê hul mandaat is juis om te verhoed dat sentrale staatsbeheer as die enigste oplossing voorgehou word, terwyl die veebedryf reeds onder geweldige druk verkeer.
Die krisis rondom bek-en-klouseer word nou as een van die grootste bedreigings vir Suid-Afrika se veebedryf beskou.