Die haglike toestand van polisiewoonstelle in Gqeberha word ondersoek nadat ernstige klagtes oor vervalle geboue en swak leefomstandighede geopper is.
Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het ‘n volledige verslag oor die toestand van polisiewoonstelle in Algoapark, Gamtoos en Sterrenberg aangevra. Dit volg op berigte oor ernstige gesondheids- en veiligheidsprobleme by die woonkomplekse.
Retief Odendaal, DA-burgemeesterskandidaat vir die Nelson Mandelabaai-metro, het ná ‘n besoek aan die geboue gesê die Sterrenberg-woonstelle verkeer in ‘n kommerwekkende toestand.
Volgens Odendaal was die gebou vir weke sonder watertoevoer, terwyl gedeeltes daarvan met vullis besaai is weens die afwesigheid van doeltreffende vullisverwydering. Hy sê die rotplaag is daarom nie onverwags nie.
Hy het verder daarop gewys dat die 13-verdiepinggebou se hysbakke reeds sedert 2017 buite werking is. Volgens hom is dit steeds onduidelik waarom die hysbakke ná ‘n ondersoek destyds nie weer in gebruik geneem is nie.
Odendaal het ook gesê daar bestaan onsekerheid of die woonstelle uitsluitlik deur polisielede bewoon word. Hy meen die geboue behoort as onbewoonbaar verklaar te word weens die veiligheidsrisiko’s vir inwoners en die omliggende gemeenskap.
Macpherson het verlede week aangedui dat hy eers op die verslag sal reageer voordat enige verdere stappe aangekondig word.
Odendaal sê dit is onaanvaarbaar dat polisielede onder sulke omstandighede moet woon terwyl daar van hulle verwag word om misdaad doeltreffend te bekamp.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het bevestig dat hy kennis geneem het van die bekommernisse oor die polisiewoonstelle.
Nobuntu Gantana, polisiewoordvoerder, het gesê die SAPD werk saam met die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur om veilige, gesonde en waardige leefomstandighede vir inwoners te help verseker.
Volgens Gantana is Openbare Werke verantwoordelik vir die instandhouding van staatsgeboue, terwyl die SAPD die daaglikse bestuur van die woonstelle behartig.
Sy het bygevoeg dat ‘n gesamentlike inspeksie onlangs verskeie probleme uitgewys het wat aandag verg. Vullisverwydering word deur die munisipaliteit gedoen, maar inwoners dra ook verantwoordelikheid om die terrein skoon te hou en enige skade of vandalisme aan te meld.
Waar skade aan staatseiendom voorkom, sal die toepaslike stappe ingevolge die geldende beleid gedoen word, het Gantana gesê.