WASHINGTON – Die Amerikaanse regering het nuwe reisbeperkings ingestel wat vereis dat Amerikaanse burgers wat hulle in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) bevind, eers 21 dae in ‘n derde land deurbring voordat hulle met kommersiële vlugte na die Verenigde State mag terugkeer. Die maatreël is ingestel weens die uitbreidende Ebola-uitbreking in die land.
Volgens ‘n amptenaar van die Withuis, wat anoniem gepraat het, het die maatreël Maandag in werking getree.
Kragtens die nuwe reëls sal Amerikaners wat in die DRK is, of die land onlangs verlaat het, op ‘n “moenie aan boord gaan nie”-lys geplaas word. Hulle sal eers ná ‘n wagtydperk van minstens 21 dae in ‘n derde land na die VSA mag terugkeer.
Die nuwe reisbeperkings volg te midde van ‘n uitbreidende Ebola-uitbreking wat reeds na verskeie provinsies in die DRK versprei het.
Amptelike syfers het Sondagaand getoon dat 1 926 bevestigde Ebola-gevalle, waaronder 702 sterftes, reeds in die land aangemeld is.
Ebola is ‘n ernstige virussiekte wat deur direkte kontak met liggaamsvloeistowwe van besmette mense of diere versprei. Simptome sluit onder meer hoë koors, braking en inwendige en uitwendige bloeding in.
Volgens die Withuis sou sowat 24 Amerikaners Dinsdag na die VSA terugvlieg nadat hulle die DRK besoek het. Die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake het aangedui dat hy dié burgers tydens die wagtydperk sal bystaan.
Dr. Daniel Jernigan, ‘n voormalige senior amptenaar van die Amerikaanse Sentrum vir Siektebeheer en -Voorkoming (CDC), het gesê dit is die eerste keer dat die “moenie aan boord gaan nie”-beleid gebruik word om Amerikaanse burgers te verhinder om onmiddellik huis toe terug te keer wanneer hul risiko van Ebola-besmetting laag is.
Volgens hom kan die beleid daartoe lei dat reisigers hul reisgeskiedenis of moontlike blootstelling aan die virus verdoesel en kan dit die werwing van Amerikaanse gesondheidswerkers vir Ebola-noodhulp bemoeilik.
Die Amerikaanse Departement van Gesondheid en Menslike Dienste het Maandag gewaarsku dat die risiko van verdere verspreiding toegeneem het nadat die virus gebiede naby die hoofstad, Kinshasa, bereik het.
Die CDC het verlede week bevestig dat ‘n Amerikaanse humanitêre werker in die DRK met die Bundibugyo-stam van die Ebola-virus besmet is. Nog ‘n Amerikaanse burger is Maandag vir behandeling na ‘n hospitaal in Frankfurt, Duitsland, oorgeplaas.
Die Amerikaanse regering het reeds honderde miljoene dollar vir die Ebola-reaksie beskikbaar gestel en is besig om ‘n kwarantynsentrum in Kenia vir Amerikaanse burgers op te rig.
‘n Woordvoerder van die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake het gesê die regering werk saam met humanitêre vennote om die nuwe reismaatreëls toe te pas en is gereed om Amerikaners wat onlangs in die DRK was, by te staan.