’n Graad 7-leerder van die Universitas Primêre Skool in Bloemfontein is nou amptelik ’n Guinness Wêreldrekordhouer nadat hy 47 splits in een minuut voltooi het en ’n nuwe rekord in die mansafdeling opgestel het.
Die twaalfjarige Chaz Wilson, toe nog 11 jaar oud, het dié prestasie tydens ’n amptelike rekordpoging op 15 Oktober verlede jaar by sy skool behaal, met klasmaats en onderwysers wat hom van die kantlyn af aangemoedig het.
Volgens sy ma, Ariena Wilson, het die idee tydens ’n familiebraai in Desember 2024 ontstaan.
“Ons was by my ma se huis vir ’n braai toe hy en sy niggie, Charlene, na video’s gekyk het. Hulle het op Liberty Barros se rekord in die vroue-afdeling afgekom, wat destyds 42 splits was. Toe hy dit sien, het hy dadelik gesê hy kan dit ook doen,” het sy vertel.
Sy sê hy het sommer daar in die sitkamer begin oefen en was vasbeslote om die rekord te probeer breek.
“Ek moes eers uitvind hoe die Guinness Wêreldrekord-proses werk, want dit is nie so eenvoudig soos om net ’n video in te stuur nie.”
Die proses het deeglike voorbereiding en streng nakoming van Guinness se reëls vereis.
“Ek moes ’n rekening op die Guinness-webwerf skep en aansoek doen om die rekord te probeer breek. Daarna stuur hulle ’n volledige dokument met reëls wat streng nagekom moet word,” het sy verduidelik.
“Daar moes tydhouers wees, onafhanklike getuies, stadige-video-opnames en ’n volledige opname van die hele poging. Dit was ’n uitgebreide proses.”
Die familie het uiteindelik besluit om die poging by Universitas Primêre Skool aan te bied om aan die vereistes van ’n openbare omgewing en onafhanklike toesig te voldoen.
“Die skool was bereid om te help, en dit het alles baie makliker gemaak,” het sy gesê.
Tot hul verbasing was daar aanvanklik geen amptelike rekord in die mansafdeling nie.
“Hy moes net meer as 30 splits doen om die rekord te vestig. Maar toe het iemand anders dit in September probeer en 46 behaal.”
“Ons was senuweeagtig, want Chaz het net een meer gedoen. Ons moes net hoop alles word goedgekeur.”
Die gesin het eers verlede week amptelike bevestiging van Guinness ontvang.
Sy beskryf die atmosfeer op die dag as emosioneel, met haar seun wat tussen senuweeagtigheid en opgewondenheid gewissel het.
“Hy was baie senuweeagtig, maar ook baie opgewonde. By die huis het hy nie soveel splits gedoen nie, maar die adrenalien en die kinders wat hom aangemoedig het, het hom daardie dag ekstra energie gegee.”
“Dit was net een poging. Hy het dit een keer gedoen en alles het glad verloop. Ons het nie gevoel dit is nodig om dit weer te doen nie.”
Volgens haar het die werklikheid van sy prestasie eers ingesink toe die bevestigings-e-pos ontvang is.
“Hy was baie bly toe ons die e-pos ontvang. Hy het gesê dat as hy nie die rekord gekry het nie, hy my sou dwing om hom weer in te skryf, want hy weet hy kan nog meer splits doen.”
Die familie is uiters trots op sy prestasie, veral ná maande se voorbereiding om seker te maak alles voldoen aan die streng vereistes.
“As ouers is ons ongelooflik trots. Daar was baie druk om seker te maak al die dokumentasie en video’s voldoen aan Guinness se reëls. Ons wou nie hê die poging moes misluk omdat iets nie reg gedoen is nie.”
Sy het bygevoeg dat die reaksie sedert die nuus bekend geword het, oorweldigend positief is.
“Mense sien die plasings op Facebook en sê dan: ‘Wag, is dit jou kind wat die rekord het?’,” het sy laggend gesê.
Chaz sê dit voel “fantasties” om ’n Guinness Wêreldrekordhouer te wees.
Hoewel hy slegs een amptelike poging aangewend het, sê hy maande se oefening het tot die prestasie bygedra.
“Dit was net daardie een poging op die dag, maar ek het baie geoefen,” het hy gesê.
Hy het ook sy klasmaats geloof vir hul ondersteuning tydens die poging.
“Dit was baie lekker. Ek was eerlikwaar verbaas oor hoe baie hulle my aangemoedig het.”
“Hulle was baie verras toe hulle hoor ek het die rekord gebreek, en hulle het my gelukgewens. Dit was regtig ’n groot oomblik.”